Naka Bulle skud hul vere reg vir uitdagende 2022 seisoen
Die Carltonbeker kampioen klub van 2021, ABE Midas Naka Bulle, se spelers en bestuurspan is uitgerus ná die afseisoen en die manne is reeds terug op die oefenveld om voor te berei vir ’n baie besige 2022 seisoen.
As daar een ding is waaroor geen speler of administrateur by die ABE Midas Naka Bulle rugbyklub twyfel nie, is dit dat hulle vanjaar se klubrugby seisoen ingaan met ’n groot teiken op die rug.
Elke betrokke speler, afrigter en administrateur by dié klub in die Moot van Pretoria is egter gereed en opgewonde om die nuwe seisoen tegemoed te gaan as heersende Carltonbeker kampioen.
Nadat hulle verlede jaar vir die eerste keer in die byna 60-jarige bestaan van die klub hul heel eerste Carltonbeker titel kon wen, het dié manne geen voorneme om gou weer daarvan afstand te doen nie. Daarom is die klub se planne en strukture reeds in orde en die spelers het vroeg vanjaar reeds met oorgawe begin sweet om reg te wees as die aksie op die veld eersdaags begin.
Rekord het die klub verlede week besoek en reeds vroegmiddag het senior hoofafrigter Marinus van der Watt en sy kollegas hul spelers in die klub se eie goed-toegeruste gimnasium laat sweet. Daarna is die manne rugbyveld toe vir verdere fiksheidstoetse en sweetsessies.
Later die aand is die opgewondenheid onder die spelers tot ’n nuwe vlak gedryf, toe hulle deur die klub se voorsitter toegespreek kon word. Die spelers is ingelig dat hul lojale borg van die afgelope vier seisoene, ABE Midas, pas ’n nuwe kontrak onderteken het om die Carltonbeker kampioene vir ’n verdere twee seisoene by te staan.
“ABE Midas se ondersteuning gee aan ons gemoedsrus om te kan fokus op die spelers se voorbereiding vir die seisoen. Hulle weet dat hul onkostes gedek sal word en dat die klub hulle sal kan help om hul aandag op die veld te hou,” het Ian Hebrst, voorsitter van die ABE Midas Naka Bulle daarna aan Rekord gesê.
André Potgieter, eienaar van ABE Midas, het gesê dat hy trots en dankbaar is om sy verbintenis met die klub te kan verleng.
“Die mense van die Moot ondersteun ons al jare en met hierdie bydrae ploeg ons terug in ’n saak wat nie net vermaak en trots aan die mense van die Moot bring nie, maar ook geleenthede skep aan talentvolle rugbyspelers,” het Potgieter aan Rekord gesê.
Volgens Potgieter droom hulle jare al om ABE Naka Bulle as ’n uitstaande gemeenskapsklub uit te bou wat iets aan elke inwoner van die Moot bied. Met hul bystand aan die klub hoop hulle om hierdie konsep net verder te versterk én natuurlik om ABE Midas Naka Bulle te help om ’n kampioen-klub te bly.
Herbst het aan Rekord gesê dat hulle bittermin spelers verloor het sedert verlede seisoen, maar dat hulle uitsien na ’n paar opwindende aanwinste. Slegs verlede jaar se kaptein, Luga van Biljon, wat na Europa verhuis het, asook die veteraan stut Lawrence Cleminson, wat teruggekeer het na sy geboorteland, Zimbabwe, is nie weer beskikbaar nie.
’n Opwindende seisoen lê vir die klub voor. Behalwe vir die Carltonbeker liga is daar ook ’n Paas-klubtoernooi waarna spelers kan uitsien.
Die Blou Bulle het intussen ook bekendgemaak dat klubspelers vanjaar weer die geleentheid sal kry om verteenwoordigende rugby te speel vir die Loftus 200 span, wat onder andere sal uitdraf teen die Tel Aviv Heat span, wat tans by die professionele Rugby Europe Super Cup betrokke is.
Die klub is ook opgewonde oor hul groot groep juniors, wat ABE Midas Naka Bulle in die Blou Bulle se o.20 klubligas sal verteenwoordig. ’n Ou bekende by die klub, die voormalige eerstespan kaptein Sylvester Booysen, sluit hom as hulpafrigter aan by die bestuurspan van hoofafrigter Koedoe Oberholzer, wat die juniors sal lei.
Oberholzer het aan Rekord gesê dat die klub se o.20 spelers ook weer in aanmerking sal kom om op provinsiale vlak vir die Limpopo Blou Bulle in die nasionale B-afdeling liga te speel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







