Local sportSport

Noordelikes wys groei, klop Silwer Valke in vriendskaplike wedstryde

Die Noordelikes rugbyklub vorder goed op pad na die begin van die liga-seisoen in Mei en beide die klub se spanne het die afgelope naweek goeie oorwinnings behaal in vriendskaplike wedstryde.

Die “nuwe” Noordelikes rugbyklub stoom steeds voort op pad na ’n eerste volwaardige seisoen in drie jaar.

Die klub het die afgelope Saterdag met twee spanne in vriendskaplike wedstryde teen die Silver Valke van Silverton gespeel.

Noordelikes het verras met die wyse waarop beide spanne die manne uit die Ooste kafgedraf het. Terwyl die eerstespan met 41-17 gewen het, het Noordelikes se tweedes ook ’n oorwinning van 35-12 behaal.

Hierdie vertonings was ’n goeie barometer vir die bestuur van die klub, aangesien die Silver Valke vanjaar in dieselfde liga in Bloubul klubrugby gaan speel as Noordelikes.

Spelers van Noordelikes tydens ‘n onlangse oefening, saam met die vaardigheid- en agterlyn konsultant, Grant Esterhuizen (middel, agter).
Foto: Koos Venter

Die bestuur van Noordelikes het intussen besluit om eerder vanjaar by die Blou Bulle se Reserweliga in te skakel, nadat daar aanvanklik oorweeg is om vir die Presidentsliga in te skryf. Hierdie besluit is gemaak om die klub se terugkeer te vergemaklik, saam met al die ander groeipyne en logistieke sake wat bestuur moet word.

Klubs soos Brits, Wolverines (naby Hartbeespoort), Westelikes, Cullinan, Silver Valke en Stanza wag vir Noordelikes in die Reswerweliga.

Op die langterwyn is daar egter groter drome en die bestuur glo dat Noordelikes, veral weens die oorvloed talent in die Noorde van Pretoria, binne enkele seisoene ’n gerekende krag in Bloubul klubrugby kan word.

Daar is reeds goed gevorder met die logistieke sake en die klub se vloedligte is onlangs herstel, terwyl die terrein ook in so ’n mate opgeruim kon word dat Noordelikes die afgelope Saterdag hul teenstanders uit Silverton kon ontvang.

Noordelikes se hoofafrigter, Martin Koekemoer, het aan Rekord gesê hy is tevrede met die vordering van sy spelers, hoewel daar nog harde werk voorlê voor die ligas in Meimaand begin.

Volgens Koekemoer is die manne se geestelike ingesteldheid op hierdie stadium net so belangrik as hul fisieke voorbereiding. Daarom het hy die afgelope naweek veral gekyk na spelers se positiewe houding op die veld en hul werkverrigting toe hy sy man-van-die-wedstryd gekies het.

Bestuurslede van die Noordelikes Rugbyklub, saam met gaste en afrigters by ’n oefening verlede week. Van links is Alex Visser (voorspeler konsultant), Thys Lourens (Bloubul legende), Danie Engelbrecht (onder-voorsitter), Martin Koekemoer (hoofafrigter), Grant Esterhuizen (konsultant), Johan Beukes (voorsitter) en Chrissie de Beer (Jeugklub).
Foto: Koos Venter

Die vaskopstut, Jurie Huyser, het Koekemoer beïndruk met sy werkverrigting en hy is as man-van-die-wedstryd vir die eerstespan kragmeting aangewys.

Koekemoer is tevrede met die groei wat getoon is sedert hulle minder as twee maande gelede besluit het om vanjaar die klub te laat herleef. Nuwe spelers wat belangstel om aan te sluit is egter steeds welkom om Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 by die oefenveld aan te meld.

Dié entoesiastiese afrigter het ook aan Rekord gesê dat daar binnekort ’n aankondiging gemaak sal word oor ’n hoëprofiel verdediging-spesialis wat by die afrigtingskorps van Noordelikes sal aansluit. Tans is hy besonder gelukkig met die insette van konsultante soos die voormalige Bulls- en Springbok senter, Grant Esterhuizen, wat reuse werk doen om die agterspelers gereed en skerp te kry vir die seisoen wat voorlê.

Vir enige ander navrae, kontak die voorsitter, Johan Beukes, by 079-247-0501.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button