Briljante skietwerk net voor nasionale kampioenskap
Verskeie puik prestasies was die uitstaande kenmerk van die luggeweer veldteiken skietkompetisie wat die afgelope naweek buite Pretoria plaasgevind het en waar deelnemers hulself vir oulaas kon slyp vir volgede week se nasionale kampioenskap.
Skut Mark Fairon van Johannesburg het Saterdag die skietdag by die Inyathi Field Target-klub net buite Pretoria met ‘n briljante vertoning oorheers. Fairon was eerste met ‘n telling van 48/50 gevolg deur die 19-jarige Pretorianer, Kiara Kleinhans met 46/50. In die derde plek was Derek van Niekerk (Johannesburg), ook met ‘n telling van 46/50, na Kleinhans hom in die uitskietsessie geklop het.
Dit was Kleinhans se eerste keer op die podium en ons gaan nog baie van haar hoor. Inyathi se voorsitter, Baldur Engelbrecht het ‘n goed gebalanseerde baan gebou en die wind was weereens gaaf teenoor die skuts en so is hoë tellings aangeteken.
Van die veterane soos Paul Fevrier het ‘n rowwe dag gehad. Fevrier vermoed iets het skeefgeloop met sy geweer – van die ander skuts is dit eens met hom en glo ook die moertjie agter die geweer is die sondebok. Nudge, nudge – wink, wink…
Hierdie was die laaste liga byeenkoms voor die nasionale kampioenskap wat volgende naweek 19, 20 en 21 Maart naby Hartebeespoortdam gehou word. Dié kampioenskap sal bepaal wie hierdie jaar die Proteaspan haal wat in Augustus Suid-Afrika by die internasionale kampioenskap in Italiê sal verteenwoordig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




