Local sportSport

Oos-Moot rugbyspan deur na NWU PUK Prestige reeks se uitspeelrondtes

Hoërskool Oos-Moot se rugbyspanne is gereed om verder te bou op die sukses wat hulle kort voor die koms van die Covid-krisis geniet het.

Die Hoërskool Oos-Moot se rugbyspanne lyk gereed om hul goeie vorm te hervat wat geheers het voordat die Covid-krisis alle skolerugby-aksie tot stilstand laat knars het.

Rekord het onlangs berig dat Oos-Moot die afgelope twee jaar se dormansie gebruik het om sportsake by dié skool te hergroepeer. ’n Nuwe sporthoof, Christiaan Gouws, is aangestel en onder sy leiding waai ’n vars nuwe bries by die Moot se top sportskool.

Die 2022 rugbyseisoen het reeds meer as ’n maand gelede in alle erns vir Oos-Moot se spanne begin.

Tydens die afgelope skoolvakansie het beide die eerstespan en die o.16’s groot sukses behaal op hul onderskeie toere.

Die Oosies se eerstes het na die Suid-Kaap getoer, waar hulle aan die Oakdale Rugbyweek deelgeneem het. Daar het hulle in hul eerste wedstryd teen Strand Hoërskool verloor (12-19), maar daarna twee gerekende teenstanders geklop.

In nog ’n taai stryd het Oos-Moot met 13-12 teen Hoërskool Swartland gewen en in hul laaste wedstryd op toer het Regardt Jordaan en sy manne deeglik met Hoërskool Robertson (48-25) afgereken.

Net voor die vakansie het die NWU PUK Prestige reeks begin, waarvan Oos-Moot ook vanjaar deel is. Hoewel hulle die eerste wedstryd van die seisoen in dié reeks met 14-21 teen Potchefstroom Volkskool vasgeval het, het die Oosies daarna onoorwonne gebly.

Eers het hulle nog voor die vakansie met Hoërskool Marais Viljoen (34-20) afgereken. Die afgelope naweek het Oos-Moot vir die kwarteindstryd van hierdie toernooi gekwalifiseer deur die sterk span van Hoërskool Lichtenburg met 18-10 te klop.

Hoërskool Oos-Moot se o.16 span poseer met hul nuwe truie saam met hul bestuurspan en die borg, André Potgieter (derde van regs, agter).
Foto: Koos Venter

Die kwarteindrondte wedstryde van die NWU PUK Prestige reeks vind plaas op 23 April.

Oos-Moot se o.16 span het vanjaar getoer na Naboomspruit, waar hulle aan die Mauritz Hansen Rugbyweek (beter bekend as die Hansieweek) deelgeneem het.

Twee van Oos-Moot se spelers, Deon Badenhorst en Christiaan Smith, is na afloop van die toernooi gekies as deel van die o.16 span van die week.

Oos-Moot se rugbyspanne sal ook vanjaar weer deelneem aan die Noordvaal Skolereeks (voorheen bekend as die Virseker Beker toernooi), wat op 14 Mei afskop. Die Oosies se eerste teenstander in dié gesogte toernooi is die sterk span van Hugenote van Springs aan die Oos-Rand.

Die nuwe bestuur van sport by Oos-Moot het ook onlangs ’n borg vir al die spanne van die skool gewerf. ABE Midas in die Moot, wat geen bekendstelling nodig het onder rugbyliefhebbers nie, sal al die spanne van Oos-Moot borg in 2022.

André Potgieter, eienaar van ABE Midas, het verlede week voor die spanne se vetrek na Lichtenburg, die splinternuwe rugbytruie aan spelers van die eerstespan en die o.16’s oorhandig.

Potgieter borg ook al jare vir Naka Bulle, die Carltonbeker klub in die Moot. Hy het by die oorhandiging van die truie gesê sy hulp aan Oos-Moot is net nog ’n manier om sy dank te betuig aan die mense van die Moot wat hom al jare ondersteun.

Die hoof van Hoërskool Oos-Moot, Nico Kotze, het gesê hoewel hulle ernstig is oor al die toernooie waaraan die skool deelneem, sal daar vanjaar ’n groot poging wees van al die skool se spanne – vanaf o.14 tot by die eerstes – om weer hul stempel af te druk in die Noordvaal Skolereeks, waar Oos-Moot in die verlede al twee keer (1981 en weer in 2018) as algehele kampioen gekroon is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button