Grizzlies gereed om Carltonbeker toernooi met nuwe aanslag aan te durf
Die Grizzlies rugbyspanne van die Tuine Sportklub skud hul vere reg vir ’n groot aanslag in hul tweede seisoen as volwaardige Carltonbeker klub en verskeie veranderings en verbeterings is aangebring om hierdie doelwit te bereik.
Die suksesverhaal van die Tuine Sportklub se Grizzlies rugbyspanne is nou reeds welbekend.
Nadat dié klub sowat ’n dekade gelede letterlik én figuurlik basies van die grond herbou is, het die sukses ook op die veld vir die Grizzlies gevolg.
Ná ’n paar puik seisoene in die Blou Bulle se Presidentsliga, is die Grizzlies verlede seisoen te midde van die Covid-bedreiging gepromoveer na die Carltonbeker liga, waar hulle teen Pretoria se sterkste klubs sou meeding.
Waarnemers was dit eens dat dié klub se resep – hoewel daar nog aan geskaaf kan word – op die regte pad is om die koers vir die toekoms van klubrugby aan te dui. Die een ding wat Tuine Sportklub se bestuur behoorlik onder die knie gekry het, is om ’n gemeenskapsklub in die ware sin van die woord te vestig. Die klub het die sentrum van die gemeenskap se sosiale aktiwiteite geword.
Die manne van Pretoria se Weste het in 2021 hul Carltonbeker toetrede gemaak met een van die grootste verrassings in jare, toe hulle Tukkies pakslae gegee het in hul heel eerste wedstryd.
Hoewel die Grizzlies ses eerstespan uiteindelik sesde in die liga geëindig het, is die klub se spanne regdeur die seisoen nooit oordonder of verneder nie. Grizzlies se manne het hulself gehandhaaf in die Carltonliga en dit was duidelik dat dié klub gekom het om te bly.
Vanjaar is die Grizzlies sterk genoeg om vier senior en twee o/20 spanne in die Blou Bulle se ligas in te skryf. Die eerstespan het tot dusver in vriendskaplike wedstryde reeds met twee van die Oos-Rand se bestes, Springs en Brakpan, afgereken. Witbank was ook een van hul slagoffers, terwyl hulle moed geskep het uit baie beter vertonings as verlede seisoen teen ABE Midas Naka Bulle en Northam Rhinos.
Terwyl die Grizzlies se fasiliteite waarskynlik die beste van alle rugbklubs in Pretoria is, moes die bestuur egter ’n manier vind waarop hulle op die veld ook kan verbeter. Daarom is ’n paar spesialiste aan die begin van die nuwe seisoen nadergetrek om ook die kwaliteit van die klub se rugby-produk te verbeter.
Grizzlies se bestuur glo dat hulle aanslag so professioneel as moontlik moet wees en daarom is die afrigting- en rugbybestuurskorps daarvolgens aangepas. Spesialiste is ook betrek om te help met die spelers se kondisionering voor- en tydens die seisoen.
’n Gimnasium is tans in aanbou op die klubterrein, maar intussen het die bestuur ’n ooreenkoms bereik met ’n gimnasium in die Weste van Pretoria om hul spelers te akkomodeer.
Die voormalige hoof van die Bulls se junior spanne, wat later ook die Sharks se Curriebeker span afgerig het, Paul Anthony, is aangestel as Grizzlies se Direkteur van Rugby. Hy sal met beide die spelers en afrigters werk, terwyl hy verantwoordelk sal wees om ’n professionele kultuur by die klub te vestig.
Onder die afrigters is ’n voormalige speler van Leinster in Ireland, Christiaan Gouws, as hoofafrigter van die eerstespan aangestel. Hy sal bygestaan word deur manne soos AJ le Roux wat die voorspelers sal brei, terwyl Jaco Koch as lynstaanspesialis hand sal bysit. Le Roux het in sy rugbyloopbaan meer as 100 eersterangse provinsiale wedstryde vir spanne soos die Griekwas, Cheetahs, Leeus en Pumas gespeel.
Oud Bulls en Springbok haker, Danie Coetzee, sal die tweedespan onder hande neem. Hy word bygestaan deur Henry Adendorff.
Die derdes se hoofafrigter is die gewese Carltonbeker heelagter van Centurion, Gawie Espag. Sy assistent is die voormalige Olimpiese atleet, Riaan Botha, wat ook top rugby as junior gespeel het.
Kobus en André Vlok sal Grizzlies se vierdes onder hande neem, terwyl Dino Slabbert (hoofafrigter) en Werner van Rensburg (hulpafrigter) by die o,20 manne betrokke is.
Intussen het die klub heelwat aanwinste gehad om hul geledere te versterk. Volgens Henry Adendorff, wat ook as Rugbybestuurder optree, kry die klub selfs navraag uit ander provinisies van spelers wat belangstel om vir die Grizzlies te speel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
