Herlewing van klubrugby bevestig by Bulle se nasionale klubtoernooi
Die pas afgelope World Sports Betting Paastoernooi vir die lans se top klubrugby spanne het die krag en standaard van die Blou Bulle se Carltonbeker liga onderstreep.
In die amateurdae van rugby was die nasionale klubtoernooi, wat vir jare in Durban aangebied is, ’n skouspel van die land se heel beste rugbytalent.
Omdat die rugbyseisoen destyds eers in April afgeskop het, was dié gewilde Paastoernooi gewoonlik die geleentheid vir alle spelers – ook top provinsiale spelers en Springbokke – om hul wedstrydfiksheid op te skerp voor die provinsiale seisoen sou begin.
Klubrugby in Suid-Afrika het intussen oor die afgelope 25 jaar deur verskeie fases gegaan. Maar nadat verskeie faktore die geleenthede vir professionele rugbyspelers dramaties verklein het oor die afgelope paar seisoene, beleef klubrugby daarenteen ’n bloeityd. Die spel het sielik weer begin groei op dié vlak en die kwaliteit van klubrugby het ook regdeur die land begin verbeter.
Juis om hierdie rede is die pas afgelope Paasnaweek se nasionale World Sports Betting Klubtoernooi, wat deur die Blou Bulle in Pretoria aangebied is, een van die beste dinge wat in ’n lang tyd vir rugby op dié vlak gebeur het.

Foto: Harlequins
Top klubspanne uit ander provinsies, waarvan die meeste die eersteliga kampioene uit hul streek was, het na Pretoria gereis om deel vandie toernooi te wees en teen die Bulle se Carltonbekerklubs te speel. Onder hierdie klubs was daar bekendes soos College Rovers (Sharks kampioen), Durbell (WP kampioen), PE Harlequins (OP kampioen), Welkom (Griffons kampioen), Brakpan en Vereeniging (Valke), Potgietersrus en Waterberg (Limpopo Blou Bulle) en die nuwe semi-professionele klub uit die Luipers se omgewing, die Wolverines.
Van die sewe Carltonbeker klubs was slegs Tuks (besig met Varsitybeker) en Centurion (onttrek) nie betrokke by die toernooi nie.

Foto: Facebook
Terwyl die toernooi rugby van ’n baie hoë gehalte opgelewer het, het dit egter ook bewys hoe hoog die standaard van die Carltonbeker liga is.
Bloubul Carltonbeker klubs was tydens die toernooi betrokke by 14 wedstryde, waarvan hulle elf gewen en slegs drie verloor het.
Pretoria Harlequins het Vereeniging met 54-12 kafgedraf en PE Harlequins met 89-9 vermorstel. Hulle het slegs teen die Sharks kampioen, College Rovers net-net met 48-52 verloor.

Foto: Grizzlies Facebook
Ook Pretoria rugbyklub het twee uit drie gewen, met oorwinnings teen Brakpan (24-17) en PE Harlequins (66-24), terwyl hulle met 0-27 op dag een teen die Wolverines vasgeval het.
Die Grizzlies van Tuine Sportklub het almal verras met drie oorwinnings. Hulle klop Welkom met 20-15, Potgietersrus mmet 33-12 en Waterberg met 40-27.
Die Carltonbeker kampioen, ABE Midas Naka Bulle het twee van die groot kanonne geklop. Teen College Rovers was hul wentelling 25-7, terwyl hulle Durbell met 28-18 verslaan het en ook maklik klaargespeel het met PE Harlequins (84-15).
Die ander delnemende Carltonbeker klub, Northam Rhinos, het Welkom met 35-0 geklop, maar met 0-12 teen Durbell vasgeval.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
