Kan Tuks ook in die Carltonbeker toernooi terugbons vanjaar?
Die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker klubtoernooi skop eerskomende naweek af en liefhebbers van klubrugby kan hul lippe aflek vir vyf maande van uitstaande rugby op hierdie vlak.
Met Tuks se merkwaardige oorwinning verlede Maandag in die eindstryd van die Varsitybeker nou iets van die verelde, skuif die klem eerskomende naweek na die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker toernooi.
Voordat ’n mens egter die detail rondom die Carltonbeker toernooi bespreek, moet daar beslis eers ’n paar woorde oor Tuks se prestasie gesê word.
Die feit dat Nico Luus en sy manne dit kon regkry om die vyfde titel vir TuksRugby in te palm, is inderdaad merkwaardig.
Daar is geruime tyd al kommer in sekere kringe wat oortuig is dat rugby by die Universiteit van Pretoria besig is om stadig maar seker in trurat te beweeg.
Tot onlangs het Tuks nie net jaarliks hul stempel afgedruk op die toernooie waaraan hulle op unieversiteite-vlak deelneem – die Varsitybeker en USSA-toernooi – nie, maar dié studente was tydens die vorige dekade byna onoorwinlik in die Carltonbeker toernooi.
Intussen is daar volgends heelwat waarnemers rede om te glo dat die universiteit se koshuis ligas – weens verskeie faktore – nie meer op dieselfde standaard is wat dit voorheen was nie.
Hierdie waarneming, asook die feit dat die verhouding tussen Tuks en die Blou Bulle nie meer op dieselfde vlak is waar dit tot so paar jaar gelede was ten opsigte van die werwing van spelers was nie, het baie liefhebbers van klubrugby bekommerd gemaak. Toe Tuks verlede jaar boonop derde op die Carltonbeker punteleer eindig en nie vir die eindstryd kon kwalifiseer nie, het die tonge begin klap.

Foto: Frans Lombard
Daar kan geen twyfel wees dat Tuks se rugby tydens verlede seisoen se Carltonbeker toernooi – nadat hulle vroeër ook die Varsitybeker gewen het – nie naastenby op die standaard was wat almal gewoond was nie.
Hierdie situasie het egter niks te doen met Nico Luus en sy bestuurspan se vermoeëns as afrigters nie. Dit het hulle die afgelope drie maande deeglik bewys tydens hul Varsitybeker veldtog.
Wat wel waar is, is dat Tuks beslis nie meer die diepte het waaraan hulle gewoond was nie. Baie van hul Varsitybeker spelers sal weens verskeie redes weer nie vir die Carltonbeker seisoen beskikbaar wees nie. Dít dek natuurlik weer die tafel vir nog ’n baie opwindende Carltonbeker toernooi in 2022.
Die toernooi word vanjaar weer uitgebrei tot agt spanne, met die insluiting van die driemalige Gold Cup nasionale klubkampioenspan, Rusteburg Impala, wat na ’n afwesigheid van twee seisoene weer by dié liga aansluit.
Die liga bestaan dus uit die huidige kampioen, ABE Midas Naka Bulle, verlede jaar se finalis, die Northam Rhinos, Tukkies, Centurion, Harlequins, Pretoria Rugbyklub, die Tuine Grizzlies en Rustenburg Impala.
Rekord het reeds berig dat verlede jaar se nuwelinge, Pretoria en die Grizzlies, daadwerlik gewerskaf het om hul geledere te versterk ten opsigte van spelers en afrigters. Daarby sal Harlequins wil voortbou op verlede seisoen se sterk eindpoging, toe hulle baie goeie rugby gespeel het en net-net nie daarin kon slaag om vir die halfeindrondte te kwalifiseer nie.
Centurion, ’n semi-finalis van verlede jaar, het hul voorseisoen voorbereiding effens anders benader as die res, maar hulle sal sekerlik ’n faktor wees, terwyl Northam en ABE Midas Naka Bulle ook reg is om hul onderskeie kragtoere van 2021 te herhaal.
Die Carltonbeker liga skop eerskomende naweek af met die volgende bepalings (tuisspanne eerste genoem): Impala vs Centurion; Pretoria vs Harlequins; ABE Midas Naka Bulle vs Tuine Grizzlies en Tuks vsn Northam Rhinos.

Foto: ASEM/Engage
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
