Eerste Carltonbeker uitslae dui op opwindende seisoen
Met klubrugby wat vanjaar waarskynlik sy hoogste profiel in dekades gaan handhaaf, het die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker toernooi van 2022 die afgelope naweek met vier opwindende wedstryde afgeskop.
As daar na die eerste wedstryde van vanjaar se Carltonbeker klubrugbytoernooi een feit uitstaan, is dit dat dié toernooi vanjaar kookwater rugby gaan oplewer.
Die gaping tussen die sterker klubs en verlede jaar se agterosse is beslis kleiner vanjaar en hoewel daar nie die afgelope naweek enige wesenlike verrassing was nie, kan liefhebbers van klubrugby maar seker wees dat dit nog in die volgende vier maande gaan kom.
— Hoewel Tuks se naelskraapse oorwinning van 19-18 oor verlede jaar se naaswenner, Northam se Rhinos, nie ’n skok of verrassing was nie, het die studente tog daarmee ’n boodskap uitgestuur aan die res van die spanne.
Tuks het verlede jaar stadig begin en kon uiteindelik nie die eindstryd haal nie, maar om die Bosvelders op hul tuisveld in Northam te klop, is geen maklike taak nie.
Met hierdie oorwinning het Nico Luus se manne wraak geneem oor die Rhinos, wat hulle verlede seisoen twee keer pakslae gegee het. Die uitslag kon egter maklik anders gelyk het as die Rhinos se skopper net een van hul drie drieë kon verdoel.
— In die Moot het die Grizzlies van Tuine ook ’n waarskuwing aan die res van die spanne gerig. Hoewel ABE Midas Naka Bulle dié kragmeting tussen die twee buurspanne met 36-26 gewen het en drie drieë meer as die manne van die Weste gedruk het, was die Grizzlies enduit kompeterend.
Bloubul spelers soos FC du Plessis en die Kriel-broers, David en Richard, was agterlangs goud werd vir die Grizzlies.
ABE Midas Naka Bulle het egter ook die gewoonte om stadig uit die blokke te kom en dié klub het tans besonder goeie diepte. Dit sal beslis ’n groot poging van enige klub verg om hulle te klop.

Foto: Harlequins
— In Groenkloof, waar die twee bure aan weerskante van Totiuslaan mekaar gepak het, was daar so byna ’n verrassing. Harlequins se ervare losskakel, Hendrik Mulder, het waarskynlik ’n bonus verdien toe hy sy span met sy skopvoet uit die moeilikheid gekry het. Harlequins het naelskraaps met 23-22 gewen.
Pretoria is wel versterk deur verskeie Bloubul spelers, maar dié manne het gewys dat hulle nie weer vanjaar die melkkoei van die toernooi wil wees nie. Pretoria het vier drieë teen hul bure se twee gedruk, maar Mulder het baie meer akuraat gekorrel na die pale as die skoppers van die verloorspan.
— Centurion, wat tot dusver hul kaarte styf teen die bors gehou het vanjaar, het elf drieë ingeryg teen Rustenburg Impala, wat vanjaar weer deel is van die Carltonbeker toernooi.
Hoewel Impala se krag nog nie getoets is nie, het Centurion met puik totale rugby en ’n oorwinning van 71-10 gewys dat hulle altyd ’n faktor in die reeks sal bly.
Hopelik sal Impala binnekort verbeter en aanpas by die standaard van die toernooi. Indien nie, gaan hulle sukkel om hierdie seisoen te voltooi.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
