Local sportSport

Centurion skok Tuks en Harlequins verras Rhinos in Carltonbeker toernooi

Na die derde week van aksie in die World Sports Betting Carltonliga is dit reeds duidelik dat die stryd om vanjaar onder die top vier op die punteleer te eindig afstuur op ’n interessante paar maande van klipharde klubrugby.

Centurion het die afgelope Saterdag weer ’n waarskuwing aan al die top spanne in die World Sports Betting Carltonbeker klubrugby liga gerig dat hulle groot planne het om vanjaar silwerware te oes in hierdie seisoen waarin dié klub hul halfeeu bestaansjaar vier.

Die manne uit die Suide van die stad het voor ’n groot skare toeskouers op hul tuisveld skitter-rugby gespeel om Tuks in ’n opwindnede wedstryd met 34-31 te klop.

Dit was van die begin af duidelik dat nog ’n lang middag wag op die Varsitybeker kampioen en teen rustyd was Centurion reeds met 19-10 voor.

Tuks het oudergewoonte hul bydrae gelewer om van die wedstryd ’n skouspel te maak en die toeskouers is getrakteer op eersteklas klubrugby, wat bevestig het dat die World Sports Betting Carltonliga waarskynlik tans só sterk is dat die meeste spanne in dié toernooi sal kan kompeteer met Curriebeker B-afdeling spanne.

Die grondslag van Centurion se oorwinning is ongetwyfeld voorlangs gelê, waar Tuks in alle aspekte uitgedaag is. Tog het Centurion se agterspel merkwaardig gegroei oor die afgelope paar seisoene en met die briljante ervare senter Christiaan (Giepie) Burger terug op sy beste, na ’n seisoen of twee se gesukkel met beserings, is daar weer ritme in dié span se agterlyn.

Tuks het tot die einde bly veg, maar selfs met ’n paar Bloubul spelers in hul geledere kon hulle nie die goedgedrilde span van Centurion onderkry nie.

Die wedtryd is boonop deur Centurion uitgesonder as die geleentheid om amptelik hul halfeeu-feesjaar vieringe af te skop en daar is ’n spesiale trofee ingestel wat na die wedstryd aan die wenspan oorghandig is. Dié trofee, wat bekend sal staan as die Bergman-Claaseen trofee, is vermoem na twee veterane in die administrasie van die twee klubs, Dave Bergman van Centurion en Wynand Claassen van Tuks.

Daar word beplan dat die twee klubs jaarliks tydens die eerste rondte van die Carltonliga om die Bergman-Claasen trofee sal meeding.

– Harlequins se oorwinning van 44-19 oor verlede seisoen se finalis in die toernooi, die Northam Rhinos, sal sekerlik vir sommige as ’n verrassing kom. Tog, as die vordering van Quins deeglik gevolg is, behoort dit nie so ’n groot skok te wees nie.

Die Blokkiestruie beskik oor ’n goed-gebalanseerde span, waarvan die kern reeds enkele seisoene saamkom. Agter hul sterk pak voorspelers beskik Quins waarskynlik oor een van die mees ervare en bedrewe skakelpare in die toernooi, terwyl die res van hul agterlyn ’n goeie mengsel van vaart, krag en vaardigheid is.

Hoewel Northan ’n paar staatmakers verloor het sedert verlede seisoen, het hulle ook ’n paar ervare manne bygekry. Hulle is egter nie meer die onbekende faktor van die verlede nie en sal hard moet werk om weerliks op hul beste te bly in hierdie taai liga.

– Soos verwag lyk dit of Rustenburg Impala gaan sukkel in hul eerste seisoen terug in die Carltonbeker liga. Die manne uit Noordwes het die afgelope naweek ’n behoorlike loesing op die lyf geloop toe Tuine se Grizzies hulle me 64-30 pakgegee het.

Die Grizzlies het tien drieë ingeryg, maar ten minste het Rustenburg positief genoeg gespeel om self ’n bonuspunt  te kon verdien met hul vier drieë.

Grizzlies sal vanjaar selfs meer as verlede seisoen die onvoorspelbare span in die reeks wees. Dat hulle oor die vermoë beskik om selfs die heel bestes op ’n goeie dag te verras,  is ’n feit.

– Die verdedigende kampioen, ABE Midas Naka Bulle se groot oorwinning van 93-0 oor Pretoria is die een uitslag van die afgelope naweek wat rooi ligte laat flikker.

Pretoria is duidelik nie dieselfde span as hulle sonder hul gesekondeerde Bloubul spelers speel nie.

’n Mens kan ter wille van Pretoria as klub, maar ook ter wille van die liga as sodanig, net hoop dat dinge drasties sal verbeter by die Blou Bulle se oudste klub. Dis baie belangrik vir klubrugby in die algemeen en ook vir die geloofwaardigheid van die liga dat Pretoria sterk genoeg moet bly kom te kan kompeteer met die res.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button