Harlequins wys tande vir teenstanders in Carltonliga
Harlequins het die afgelope naweek vir ’n ligte opskudding in die World Sports Betting Carltonbeker reeks gesorg deur Centurion te kop, terwyl die verdedigende kampioen, ABE Midas Naka Bulle, hard moes werk in die Bosveld om die Northam Rhinos se aanslag af te weer.
As daar nog enige twyfel was dat Harlequins uiteindelik die punt bereik het waar hulle weer ernstige kompeteerders in die World Sports Betting Carltonbeker liga is, het hulle dit Saterdag op hul tuisveld teen Centurion bewys.
Die Blokkiestruie het sedert hulle weer net as Harlequins bekendstaan – nadat die huwelik met Pretoria Polisie op die rotse geloop het en die naam QuinsBobbies (QBR) afgeskud is – stelselmatig verbeter.
Dinge het op en van die veld af al hoe beter begin gaan en Quins se eerstes was ongelukkig om verlede seisoen nie die uitspeelrondtes van die World Sports Betting Carltonbeker toernooi te haal nie.
Vanjaar lyk dit egter of die Harlequins van ouds terug is en op enige gegewe dag enige van die ander spanne in die liga kan klop, soos wat hulle inderdaad Saterdag gedoen het toe hulle Centurion se onoorwonne rekord verbreek het.

Foto: Johanna de Vos
– Centurion sal hulself skop, nadat hulle hierdie een laat glip het om uiteindelik met 26-24 te verloor. Hulle het die meeste aspekte van die spel oorheers en dit wou lyk of hulle ’n maklike oorwinnimg sou behaal. Die manne uit die suide van die stad het, met net vyf minute se speeltyd oor, gespog met ’n voorsprong van 24-9 en die meeste van Centurion se ondersteuners het reeds kroeg se kant toe begin beweeg om dié een te vier.
Twee vinnige drieë en ’n senutergende, moeilike, strafdoel deur Hendrik Mulder ná die toeter reeds geblaas het om amptelike spel verstreke te verklaar, het egter Centurion se vreugde gesteel en die Quins-ondersteuners laat juig.

Foto: Johanna de Vos
– In Northam in die Bosveld het ’n klubrugby-oorlog gewoed toe verlede jaar se twee finaliste, ABE Midas Naka Bulle en die Northam Rhinos mekaar met mening aangedurf het.
ABE Midas Naka Bulle moes uiteindelik hard veg en diep delf om die wenpunte in die laaste minute van die wedstryd aan te teken om met 27-25 te wen.
Dit was regdeur ’n gelykop-stryd en teen rustyd was die besoekers net-net met 17-15 voor. Albei spanne het ’n bonuspunt verdien deur vier keer die doellyn te haal en die versil was uitendelik ’n enkele doelskop wat die Manne van die Moot meer as die tuisspan kon oorklits.
ABE Midas Naka Bulle is nou die gunsteling om vanjaar die Lucas Strachan-skild te verower. Dié skild word na afloop van die eerste rondte in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi toegeken aan die span wat op daardie stadium bo-aan die punteleer is.
Slegs Centurion het teoreties nog ’n kans om dié trofee voor ABE Midas Naka Bulle weg te raap. Dit sal egter ’n reuse poging verg, want hulle sal in twee agtereenvolgende wedstryde volpunte op die ligatabel moet kry, terwyl hulle op 2 Julie sal moet verhoed dat ABE Midas Naka Bulle enige ligaunte verdien.
– Tuks het Saterdag na die vierde plek op die puntelys opgeskuif toe hulle baie maklik met Rustenburg Impala afgereken het.
Die studente het met hardlooprugby baljaar en uiteindelik tien drieë gedruk om met 62-24 te wen.
Soos aan die begin van die reeks voorspel is, sukkel die Noordwesters om by te hou in hierdie toernooi en Saterdag se pakslae was hul vyfde op ’n streep.
– Die Grizzlies van Tuine het hul tweede oorwinning van die toernooi behaal toe hulle Pretroia Rugbyklub met 40-27 geklop het.
Hoewel Pretoria self drie keer agter die doellyn kon gaan kuier, sukkel hulle steeds met diepte in die klub.
Pretoria behoort egter in die tweede rondte van die toernooi beter weerstand te bied, aangesien die kans goed is dat hulle hul Bloubul geafilieerde spelers vir die meeste wedstryde tydens dié fase beskikbaar te hê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
