Springbok vasbyt padwedloop weer by Voortrekkermonument aangebied
Een van die kleurrykste en veeleisendste padwedlope in Pretoria, die Springbok Vasbyt Wedloop, word eerssdaags weer by die Voortrekkermonumnt aangebied.
Die Leon Bezuidenhout Springbok Vasbyt Wedloop vind hierdie jaar vir die 16de keer by die Voortrekkermonument plaas.
Hierdie besondere wedloop met sy eiesoortige karakter, uitdagende bulte en erfenisviering, is al menigmaal op verskeie hardloopforums as een van die land se beste wedlope aangewys en die organiseerders kon jaar na jaar daarin slaag om ‘n wedloop van uitnemende gehalte vir deelnemers daar te stel.
Die wedloop is ‘n instelling op die sportkalender van die Jakarandastad en sinoniem met die verbyvlug van outentieke, dog imposante Harvardsgevegsvliegtuie en ‘n oorverdowende kanonskoot wat die begin van die Springbok Vasbyt aankondig.
Die historiese roete van die Springbok Vasbyt neem deelnemers verby ikoniese landmerke soos die Ringmuur van die Voortrekkermonument, Fort Schanskop, Die Amfiteater en die Muur Van Herrinnering.
Hierdie taai wedloop toets ook elke jaar alle atlete, van die elite tot die spreekwoordelike agteros se vaardigheid en uithouvermoё.
Deelnemers kom met alle denkbare hardloopopervlaktes in aanraking, en steil bulte, los klippe en skerp draaie dra tot moeilikheidsgraad van die wedloop by. Derhalwe is ‘n Springbok Vasbyt medalje ‘n waardevolle kleinnood in enige atleet se medaljeversameling.
Die wedloop wat deur die Voortrekermonument Draf- en Stapklub aangebied word in trotse samewerking met Afriforum, streef jaarliks daarna om gevalle helde van die Suid-Afrikaanse Weermag wat nie noodwendig altyd die gepaste erkenning vanaf owerheidsweë ontvang het, te gedenk en hul gesigte word op die wedloopmedalje vasgevang .
Met die 2022 wedloop word die die lewe van die stigter van die Springbok Vasbyt wedloop, Leon Bezuidenhout gedenk. Bezuidenhout is op 2 Augustus 2020 skielik oorlede en met hierdie jaar se wedloop sal ’n afbeelding van sy gesig heel gepas op die medalje van dié wedloop gemaak word, wat hom besonder na aan die hart gelệ het.
Die 2022 Springbok Vasbyt beloof om weer ‘n uitdaging aan elke atleet te stel wat daarvoor kans sien om op Saterdag 16 Julie 2022 by die Voortrekkermonument aan te tree vir die hardloopervaring van ‘n leeftyd.
Die 21 kilometer (inskrywingsgeld R140-00) en 10 kilometer wedlope (inskrywingsgeld R115-00) spring om 07:30 weg met die gebruiklike openingseremonie wat omtrent 10 minute voor die wegspring plaasvind. Daar is ook ’n 5 kilometer pretdraf wat om 07:40 begin (inskrywingsgeld R60-00).
Voorafinskrywing is ’n voorvereiste vir deelname aan hierdie wedloop. Aanlyninskrywings kan reeds gedoen word by www.entryninja.com en sluit op Sondag 10 Julie 2022. Voorafinskrywings kan ook vanaf 20 Junie tot 15 Julie 2022 (16:00) by Run-Away Sport in Lynnwoodweg asook by die Vootrekkermonument se inligtingskantoor gedoen word.
Die Springbok Vasbyt word ook as ‘n groen wedloop aangebied, wat beteken dat daar nie watersakkies by die waterpunte bedien sal word nie. Water sal wel op geselekteerde punte op die roete in grootmaat beskikbaar wees. Derhalwe word deelnemers aangemoedig om hul eie waterbottels saam te bring.
Meer inligting oor hierdie besondere wedloop kan verkry word by www.facebook.com/vtmklub of vtmraces@gmail.com of 064 582 6664.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
