Top vier skop Carltonbeker se tweede rondte af met groot oorwinnings
Tuks lyk na die enigste span tussen die onderste vier spanne op die World Sports Betting Carltonliga se punteleer was nog ’n kans het om te kwalifiseer vir die uitspeelrondtes, nadat die top vier die afgelope naweek almal goeie oorwinnings behaaal het.
Die boonste vier spanne op die World Sports Betting Carltonbeker punteleer, ABE Midas Naka Bulle, Harlequins, Notham Rhinos en Centurion, het almal die afgelope naweek hul posisie verstewig met goeie oorwinnings.
Met die tweede rondte van die toernooi wat die naweek afgeskop het, lyk dit of dié vier spanne stelselmatig die gaping tussen hulle en die ander vier kan vergroot en dat dit al hoe moeiliker sal gaan vir die onderste spanne om ’n bedreiging in te hou vir die boonste vier.
Die uitsondering op die reël is Tuks. Hulle het wel die afgelope naweek op hul tuisveld teen die Rhinos van Northam pak gekry, maar met dié span sal dit beslis van hieraf vorentoe beter begin gaan as hul fokus weer op die World Sports Betting Carltonbeker toernooi is.
— Tuks het die afgelope naweek met ’n span gelaai met hul tweedebestes gespeel, nadat hul top spelers verlede week nog by die Universiteite Sport SA (USSA) toernooi in ’n strawwe eindstryd teen Maties betrokke was. Die uiteinde was ’n oorwinning van 53-41 vir Northam.
Die Rhinos het die situasie rondom Tuks se program goed uitgebuit en weer swaar gesteun op hul groot pak voorspelers om die studente voorlangs op te dreun.
Tuks het egter, soos die studente oor die jare bekend geword het, nooit opgegee nie. Hulle het self met elke moontlike geleentheid die bal die werk laat doen uiteindelik dieselfde hoeveelheid drieë as hul teenstanders uit die Bosveld te druk.
Die verskil was dus ’n betroubare stelskopper. Waar Northam met skoppers soos die twee voormalige Junior Bokkies, Johnny Welthagen en Percy Williams, 16 punte met skoppe verdien het, kon Tuks slegs drie van hul sewe drieë verdoel.
— Die Groenkloof derby tussen Harlequins en Pretoria het wel op die telbord op ’n weghol oorwinning van 69-10 vir die tuisspan aan die noordekant van Totiusstraat uitgeloop, maar Pretoria was baie beter as wat die telbord aandui.
Die Naas Botha-wisseltrofee was oudergewoonte in dié derby op die spel. Pretoria het baie goed begin en selfs vroeg in die wedstryd ’n slag voorgeloop ná hul drie, wat ‘n stukkie skitterspel van hul losskakel, Litha Vymisa, ingesluit het.
Daarna het Pretoria vir lang tye op die aanval geboer, maar kon nooit deurbreek om hul belowende situasie in punte te omskep nie.
Die damwal het laat in die eerste helfte gebreek en na vier drieë in vyftien minute vir Quins was die koeël eintlik teen rustyd reeds deur die kerk.
Pretoria is werklik nie so ’n swak span as wat hul posisie op die punteleer aandui nie. Hulle het in die tweede helfte weer vir ’n tyd lank probeer walgooi, maar hul swak verdediging was demoraliserend, terwyl hul gebrekkige fiksheid ook nie veel gehelp het om hul fokus skerp te hou nie.
— Centurion het op hul tuisveld maklik met Rustenburg Impala afgereken. Riaan Brand en Christo Bezuidenhout se manne het 10 drieë ingeryg op met 62-7 te wen.
Met ’n paar ou staatmakers terug in hul geledere het Centurion weer gelyk na die span wat die seisoen so goed begin het.
— In die weste van die stad het ABE Midas Naka Bulle hul bure van Tuine met 46-24 verslaan.
Die wenspan het agt keer die doellyn gehaal en was soms baie goed, maar ongedwonge foute het hulle ook heelwat momentum gekos.
Die Grizzlies van Tuine het oudergewoonte met baie durf gespeel en by tye baie konstruktiewe rugby opgedis. Daarvoor is hulle met ’n bonuspunt vir vier drieë beloon.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




