Top vier kry almal volpunte in Carltonbeker, Tuks diep in die moeilikheid
Terwyl die top vier spanne op die World Sports Betting Carltonbeker kompetisie se punteleer almal die afgelope naweek volpunte verdien het met goeie oorwinnings, lyk dit of Tuks vir die eerte keer in baie jare gaan sukkel om die halfeindrondte te haal.
Die verdedigende kampioen in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi, ABE Midas Naka Bulle, het Saterdag in die Tuks stadion ’n baie duidelike standpunt gemaak – die span wat die Carltonbeker vanjaar wil wen, sal dit by hulle moet afneem.
Die ander span wat ook opnuut hul staal gewys het, is die Grizzlies van Tuine, wat so byna vir ’n reuse verrassing gesorg het teen Centurion.
– Vir Tuks, wat drie maande gelede nog op die kruin van die golf was ná hul tweede agtereenvolgende Varsitybeker titel, sou Saterdag se pakslae teen die verdedigende kampioen baie seergemaak het.
Ruan Grundelingh en sy makkers het Tuks in alle opsigte oorheers en agt drieë teen die studente ingeryg om met 50-21 te wen.
’n Mens kan byna nie onthou wanneer Tuks laas in die Carltonbeker op hul tuisveld só oortuigend geklop is dat hulle boonop self geen ligapunte kon kry nie.
Die manne van die Moot het die grondslag van hul oorwinning voorlangs gelê, soos dit hoort. Tuks is aan flarde geskrum en ABE Midas Naka Bulle kon baie momentum bou uit hierdie faset. Hier kan ’n mens ook nie anders as om die skitternede werk van hul twee voorspeler afrigters, Naas Rosssouw en Gary Botha, te komplimenteer nie.
Agter hierdie oorheersende pak voorspelers, kon Jack Hart op skrumskakel baljaar en hy het die wedstryd soos ’n meester beheer.
Weens logistieke redes kon die Lucas Strachan skild nie vroeër aan ABE Midas Naka Bulle oorhandig word nie. Ná Saterdag se groot oorwinning kon dié onoorwonne span ’n bietjie ekstra satisfaksie ervaar toe die ontvangs van dié skild deel van hul feesvieringe was.
Tuks se seisoen dreig om ernstig skeef te loop en hulle kan nie werklik bekostig om nog een wedstryd te verloor as hulle nog ’n kans wil staan om vir die halfeindstryd van die toernooi te kwalifiseer nie.
– Harlequins is steeds stewig in die tweede plek op die puntelys en hulle het die afgelope naweek hul kans teen die sukkelende Rustenburg Impala gebruik om hul punteverskil op die tabel te verbeter met ’n oorwinning van 95-12.
Attie Joubert en sy manne het die doellyn 15 keer oorgesteek teen die Noordwesters.
Quins se groot toets volg egter in die komende drie weke, wanneer hulle die ander drie van die top vier in agtereenvolgende weke moet aanvat. As hulle dié drie wedstryde oorleef met ’n oorwinning of twee, kan hulle waarskynlik vir die uitspeelfase begin voorberei.
– Rekord het vroeër voorspel dat die Grizzlies van Tuine vanjaar nog een van die top spanne bo hulle op die punteleer gaan klop. Saterdag het hulle op hul tuisveld baie naby daaraan gekom teen Centurion.
Gebrekkige skopwerk na die pale het die manne uit die suide onder druk geplaas en ten spyte van die feit dat hulle vyf drieë teen die Grizzlies se vier drieë gedruk het, kon hulle slegs met ’n telling van 30-26 wen.
Die manne van die Weste is stadig maar seker besig om hulle as ernstige kompeteerders in hierdie liga te vestig. Met hul progressiewe jong afrigters verbeter dié klub stelselmatig en die toekoms lyk goed vir die Grizzlies.
Die feit dat die Grizzlies se tweedes (38-31) en derdes (29-22) Saterdag kon wen, wys dat hulle in die World Sports Betting Carlton liga is om te bly.
– Northam Rhinos, wat tans derde op die punteleer lê, het nege drieë teen Pretoria Rugbyklub gedruk om met 51-14 te wen.
Die Bosvelders is duidelik honger vir sukses en daar kan geen twyfel wees nie dat hulle die diepte het om ’n faktor te wees in die kompetisie tot die einde toe.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.










