Local sportSport

Naka Bulle stoom voort, Tuks hou agterdeur oop in Carltonbeker

Terwyl ABE Midas Naka Bulle hul merkwaardige vertoningslys met nóg ’n volpunte-vertoning voortgesit het, het hulle aan Centurion en Northam die geleentheid gebied om nader aan Harlequins te kruip op die punteleer, terwyl Tuks al sukkelend genoeg gedoen het vir volpunte teen Grizzlies om te sorg dat die agterdeur op pad na die halfeindrondte steeds vir hulle oop bly.

Ná ABE Midas Naka Bulle se vertoning met ’n erg verswakte span die afgelope naweek teen hul grootste bedreiging in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi, Harlequins, lyk dit nie of enige van die ander spanne hulle sal kan keer om uiteindelik bo-aan die punteleer te eindig nie.

Die volgende drie plekke op die punteleer en die orde waarvolgens die halfeindstryde uiteindelik bepaal gaan word, is egter ’n heel ander saak. Die laaste drie naweke van ligabepalings tot 3 September kan nog baie spanning en opwinding oplewer tot die spreekwoordelike swaargewig tannie uiteindelik gesing het om die spanne se lot te bepaal.

– Vrydagaand op Loftus Versfeld se B-veld het ABE Midas Naka Bulle hul elfde agtereenvolgende wedstryd met ’n voltal ligapunte gewen toe hulle die span in die tweede plek op die punteleer, Harlequins, met 38-26 geklop het.

Met hierdie oorwinning het die manne van die Moot nie net seker gemaak van hul plek in die halfeindrondte nie, maar ook hul diepte bevestig. Om ’n skitterende span soos Harlequins te klop terwyl meer as ’n handvol van jou eerstekeuse spelers weens beserings nie beskikbaar is nie, wil gedoen wees in hierdie moeilike liga.

Marinus van der Watt se manne moes sonder sterre soos Marcel Human, Danny Mokoabane, JP Alberts, JJ Scheepers en verskeie voorry-opsies klaarom, maar hulle het steeds daarin geslaag om ses drieë teen Quins te druk en te wen.

Dit was egter nie so maklik as wat die telbord aandui nie. Harlequins was danksy die skopvoet van linkervleuel, Andell Loubser, teen rustyd nog voor (16-14) en met 15 minute speeltyd oor was die telling nog gelykop.

Ruan Grundelingh en sy makkers het egter in daardie laaste kwartier die stang vasgebyt en behoorlik die oorhand voorlangs gekry, wat hulle in staat gestel het om die oorwinning met hul kragspel en twee voorspeler-drieë te beklink.

– Hoewel Tuks Satedagmiddag op hul tuisveld sewe drieë gedruk het om die Grizzlies van Tuine met 43-29 te klop, was dit baie moeiliker as wat die telbord aandui.

Tuks kon nooit werklik op hul louere rus met ’n groot voorsprong nie en hul laatste twee drieë in die laaste agt minute van die wedstryd, het vir hulle die knoop deurgehaak.

Was dit egter nie vir die bydrae van Tuks se Varsitybeker held, die groot heelagter, Stefan Coetzee, nie, het die studente Saterdag hul vyfde nederlaag op ’n streep gely. Coetzee het die manne van die weste se verdediging soms aan repe geskeur met sy aanvalle vanuit die agterste vesting en een of twee van sy spanmaats het die geleenthede wat hy geskep het afgerond om Tuks in die wedstryd te hou.

Die studente het nog ’n geringe kans om by die agterdeur in te glip vir ‘n plek in die halfeindstryde, op voorwaarde dat enige van Harlequins, Centurion of Northam ‘n ineenstorting beleef en nie verder punte op die punteleer aanteken nie. Tuks het twee relatief maklike bepalings teen Impala en Pretoria wat voorlê, maar hul laaste ligawedstyd teen Harlequins op 3 September kan die einde van hul veldtog wees.

Grizzlies het die eerste helfte van die wedstryd oorheers, maar die studente se groter fiksheid en spoed onder die buite-agterspelers het veroorsaak dat die besoekers hul greep op die gang van sake verloor het.

As die span van Tuine langer kan byhou, deurentyd kan fokus op verdediging en takties ’n kerf of wat kan verbeter, kan hulle steeds in hul laaste drie bepalings ’n skokgolf of twee veroorsaak.

– Centurion het Saterdag tot een punt agter Harlequins op die punteleer geklim met hul oorwinning van 41-10 oor die moedige span van Pretoria Rugbyklub.

Die manne van die Suide het sewe keer agter die doellyn gaan kuier in ’n wedstryd waarin hulle basies alle aspekte van die spel oorheers het.

– In Rustenburg het die Northam Rhinos ook volpunte behaal teen die span van Impala. Northam, verlede jaar se finaliste, het seker gemaak niemand vergeet van hulle nie deur Impala met 57-12 te klop en in die proses nege drieë in te ryg.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button