Wilgers soen hul sussies, Garsfontein deur na Noordvaal eindstryd
Terwyl Hoërskool Die Wilgers die louere in hul Noordvaal eindstryd met Hoërskool Vryburg moes deel, lyk Hoërskool Garsfontein slaggereed vir eerskomende Saterdag se groot eindstryd teen Hoërskool Monument.
In die rugbywêreld word daar gesê om gelykop te speel in ’n eindstryd en ’n trofee te deel is soos om jou suster te soen…
Hoewel die gelykopstryd (15-15) tussen Hoërskool Die Wilgers se eerstespan en hul eweknieë van Hoërskool Vryburg uit Noordwes aan albei spanne die spogreg gee om hulself Noordvaal kampioen in Afdeling 3 (voorheen medium skole) te noem, sal dié uitslag ook baie van die glans as kampioen verdof.

Die Wilgers het egter baie om op trots te wees, aangesien hierdie besondere eerstespan iets kon regkry wat meer as ’n dekade laas deur die skool bereik is. Die Wilgers het die Noordvaal kompetisie in 2011 laas gewen, toe dit nog as Beeldtrofee vir medium skole bekend gestaan het.

Saterdag se stryd op hul tuisveld teen Vryburg was spannend en genadeloos, terwyl Die Wilgers hard moes veg om teen die groot aanslag van die Noordwesters in die prentjie te bly.

Niemand het harder geveg as flank Ajay Lottering nie en hy is uiteindelik met die prys as man-van-die-wedstryd beloon.
Die haker, Tian Joubert was oudergewoonte baie woelig en is met twee drieë beloon vir sy harde werk.
Agterlangs was binnesenter Kako Mokoena weer goud werd met sy oordeelkundige verspreiding van die bal.
– Hoërskool Garsfontein se skitterende eerstespan het vanjaar deur ’n paar fases gegaan en hul laagtepunt was waarskynlik hul vroeëre nederlaag teen Hoërskool Monument in Meimaand.
Enigeen wat egter dié uitslag as riglyn wil neem om ’n wenner te bepaal vir eerskomende Saterdag se eindstryd in die Noordvaal reeks (Afdeling 1 – voorheen makro skole), sal dwaas wees. Die Garsie Bere was daardie dag erg verswak met ten minste vyf sleutelspelers was weens beserings nie kon speel nie.

Foto: Andries Kruger

Foto: Andries Kruger
Garsfontein het sedertdien die een teenstander na die ander laat les opsê en die afgelope Saterdag het hulle die oë laat rek toe hulle die baie goeie span van Hoërskool Noordheuwel – wat verlede week met slegs 4 punte teen Monnas verloor het – so maklik met 43-10 in die halfeindstryd oorrompel het.
Daar was verlede jaar weens Covid nie ’n Noordvaal skolereeks nie en Monument sal dus as verlenging van hul eeufeesjaar in 2021 graag vanjaar weer as kampioen gekroon wil word, nadat hulle in 2019 deur Menlopark onttroon en van ’n driekuns beroof is. Monnas het die kompetisie in 2017 en 2018 gewen.
Daarenteen sal die Garsie Bere beslis hul droogte in hierdie toernooi wil breek. Hulle kon dié trofee (destyds nog die Beeldtrofee) laas in 2016 om hoog hou, nadat hulle dit die vorige jaar (2015) vir die eerste keer ooit gewen het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
