Local sportSport

Naka Bulle doen Tuks ’n guns, Quins druk Centurion terug op punteleer

Ten minste drie spanne se plek in die uitspeelrondtes van die World Sports Betting Carltonliga is reeds bepaal, maar na Saterdag se uitslag tussen Naka Bulle en die Northam Rhinos sal laasgenoemde moet vasbyt en meer as vyf ligapunte uit hul laaste twee bepalings moet verdien as hulle ’n plek onder die top vier wil verseker.

Met net twee ligabepalings wat oorbly vir al die spanne, kan die laaste twee weke ’n bepalende inpak hê op die uiteindelike stand van sake ten opsigte van die halfeindstyde van die World Sports Betting Carltonbeker toernooi.

Die afgelope naweek se uitslag tussen ABE Midas Naka Bulle en die Northam Rhinos is waarskynlik die een wat die meeste betekenis op die punteleer gaan hê, terwyl die boonste drie spanne inderdaad reeds gekwalifiseer het vir die uitspeelfase.

– ABE Midas Naka Bulle stoom steeds voort sonder om oorglopend enige momentum te verloor. Dié verdedigende kampioenspan van Marinus van der Watt het nie net hul twaalfde agtereenvolgende oorwinning behaal nie, maar vir die twaalfde agtereenvolgende wedstryd het hulle ook vier drieë of meer gedruk om volpunte op die punteleer te ontvang.

Die Moot se geoliede masjien het Saterdag weer sewe keer agter die doellyn gaan kuier, om hul teenstanders in verelde jaar se eindstryd met 41-22 te klop.

Wat belangrik is aan hierdie oorwinning, is dat die Bosvelders slegs drie drieë kon druk. Hulle het boonop met meer as sewe punte verloor, wat beteken dat hulle geen ligapunte uit hierdie wedstryd verdien het nie.

Dit beteken dat die gaping tussen Northam (vierde) en Tuks (vyfde) nou net ses punte is. As Tuks dus daarin sou slaag om in hul laaste twee wedstryde (teen Pretoria en Harlequins) volpunte te verdien, kan die Rhinos dalk in die pylvak in die moeilikheid raak.

Naka Bulle puntemakers teen Northam Rhinos is, van links, JC Conradie, JP Alberts, Ruben Beytell, Marius Stander, Danny Mokoabane en Ruan Wasserman.
Foto: Johanna de Vos

– Tuks het Rustenburg Impala behoorlik pakslae gegee en in die proses ook hul punteverslil in die groen gekry. Tuks het elf drieë ingeryg en die Noordwesters van hul voete af gehardloop met kookwater rugby waar die bal hoofsaaklik die werk gedoen het.

– Die ander groot stryd van die naweek, dié tussen Harlequins en Centurion, was terselfdertyd ’n stryd om die tweede plek op die punteleer. Na elf wedstryde was daar slegs een punt verskil tussen die twee spanne, wat onderskeidelik tweede en derde op die tabel lê.

Harlequins se hardnekkige verdediging en beter skopwerk het vir hulle die deurbraak gebring en hulle kon Riaan Brand se span in ’n taai en spannende stryd met 33-25 klop.

Die akkurate skopvoet van Harlequins se gewese Bloubul vleuel, Andell Loubser, het ’n groot verskil gemaak en die Blokkiestruie kon die wedstryd wen ten spyte van die feit dat Centruion meer drieë (vier teen drie) as hulle gedruk het.

Vir Centurion lê daar nou twee taai bepalings voor teen onderskeidelik die Northam Rhinos (weg) en ABE Midas Naka Bulle (tuis), maar op hierdie stadium lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat hulle wel vir die halfeindrondte sal kwalifiseer.

– In die enigste werklike verrassing van die naweek het Pretoria Rugbyklub hulself ’n guns gedoen in hul poging om ’n promosie/relegasie stryd te vermy deur die Grizzlies van Tuine met 46-36 te klop.

Die Grizzlies het met hierdie nederlaag nou die kersie op die koek geplaas van hul wisselvallige vertonings vanjaar, aangesien hulle die enigste span is wat teen beide Pretoria en Impala verloor het.

Die manne van die Weste het vanjaar al gewys dat hulle vir niemand hoef terug te staan nie, maar hierdie wisselvalligheid kan hulle in die toekoms duur te staan kom, veral as hulle as ernstige kompeteerders in die toernooi opgeneem wil word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button