Noordelikes rugbyklub kwalifiseer vir twee eindstryde
Die Noordelikes Rugbyklub het hul voorseisoen doelwit bereik deur met albei hul spanne te kwalifiseer vir die Blou Bulle se Reserweliga eindstryde en eerskomende Saterdag kan dié twee spanne geskiedenis maak deur die klub se 75ste bestaansjaar as liga-kampioene af te sluit.
Toe die Noordelikes rugbyklub in Pretoria-Noord teen die laaste week van Januarie vanjaar, ná drie dormante jare, hul eerste oefening aanbied om die klub weer aktief te kry, het minder as tien spelers by die oefenveld opgedaag.
Die geloof in die gemeenskap en die behoefte om ’n eie rugbyspan en die gepaardgaande sosiale omgang vir die mense van die noorde van Pretoria weer op te bou, het egter ’n paar manne en dames gedryf om hierdie projek vir die herlewing van die klub suksesvol deur te voer.
Stelselmatig het die oefeninge al hoe groter geword na mate nog spelers opgedaag het en uiteindelik kon die bestuur twee senior spanne by die Blou Bulle se Reserweliga inskryf.
Daarmee is die eerste korttermyn doelwit van die nuutverkose bestuur afgehandel. Die tweede korttermyn doelwit was om die terrein op te knap en weer gereed te kry vir rugby, wat danksy die leierskap en deursettingsvermoë van die nuwe voorsitter sommer gou afgehandel is.
Op die medium termyn is daarna gestreef om op die veld sodanig te presteer dat albei hierdie spanne vanjaar ten minste vir die eindstryd in hul onderskeie ligas sal kwalifiseer.
Ná ’n baie goeie seisoen, waartydens die klub se eerstespan eerste op hul punteleer geëindig het, terwyl die tweedespan tweede was op hul punteleer, kon albei spanne die afgelope naweek die tweedelaaste hekkie van die seisoen met hul onderskeie halfeindstryde benader.
Die eerstespan het die Wolverines in ’n taai stryd met 24-16 in hul halfeindstryd geklop, terwyl die tweedespan op hulle beurt met Cullinan afgereken het. Die telling was 24-6.
Missie suksesvol afgehandel. Doelwit bereik! Eerskomende Saterdag speel beide Noordelikes se eerste- en tweedespan in die eindstyd en die kans is dus goed dat daar teen Saterdagaand twee trofees in die “nuwe” Noordelikes se vertoonkas kan staan.
Onder leiding van hul hardwerkende voorsitter, Johan Beukes, asook manne soos Pote Fourie (president van die klub) en afrigters soos Martin Koekemoer, Danie Engelbrecht, Grant Esterhuizen, Alex Visser en andere het Noordelikes soos die spreekwoordelike fenix uit die vergetelheid herrys. Nou is daar nog net eerskomende naweek se laaste hekkies in die eindstryde.
Sukses in Saterdag se eindstryde sal die vonkelwyn soveel soeter laat smaak as die klub later vanjaar amptelik hul 75ste bestaansjaar vier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.









