Ramcat Fish se hengelfees vir gestremdes is terug met ’n kinkel
Dis weer tyd vir die gestremde hengelaars om hul viskaste reg te pak en die katrolle na te gaan, want Ramcat Fish is terug met dieselfde pret, maar ’n nuwe tema op hul spesiale hengelfees vir gestremdes.
Dis weer daardie tyd van die jaar – lente is in die lug en almal sien uit om die buitelug beter te benut, veral die hengelaars.
September is ook erfenismaand en wat kan dan nou meer deel van die Suid-Afrikaanse erfenis wees as om iewers langs die viswaters ’n paar lyne nat te maak?
Die afgelope dekade het Ramcat Fish hierdie tradisie ook op baie spesiale manier op georganiseerde wyse vir gestremde hengelaars moontlik gemaak.
Vanjaar is Ramcat Fish se hengelfees terug op 25 September by die Irene Country Lodge in Centurion, maar daar is ’n kinkel op die program. Saam met die hengelaars se stryd om so veel as moontlik vis uit die dam in te katrol, gaan daar op die wal gewerskaf word deur ’n paar vrywilligers om ’n baie besondere “erfenis rekord” op te stel met ’n besondere lang boerewors-rol.
Met die samewerking van borge, die Round Table Pretoria 126-tak wat as braaiers gaan uithelp en aspirant chefs van die Centurion Akademie wat gaan help om die boerewors-rol te maak, gaan daar probeer word om ’n unieke wêreldrekord op te stel vir die langste erfenis boerewors-rol.
“Ons maak gereed vir ’n moontlike boerewors-rol van so 80 meter, maar selfs as ons net verby 60 meter kom, behoort dit ’n rekord te wees,” het Gerard (Yster) Smal gesê toe Rekord verlede week die terrein tydens die voorbereiding besoek het.
Smal het vertel die erfenis tema word ingebring deur die feit dat elke meter van die boerewors-rol verskillend gegarneer sal word deur nege verskillende garneersels. Hierdie garneersels sal verteenwoordigend wees van die nege provinsies van Suid-Afrika.
Hy het die sluier effens gelig oor hul planne.
“Daar sal byvoorbeeld beslis avokadopeer wees in die Mpumalanga garneersel, pynappel in die Oos-Kaap garneersel en ’n bietjie kerrie in die KwaZulu-Natal garneersel,” het hy verklap.
As die rekord-poging voltooi is, sal die reuse boerewors-rol stuk-stuk verkoop word aan die besoekers en ondersteuners van die gestremde hengelaars, terwyl dié geskiedkundige worsrol ook deel van die ingeskrewe deelnemers se middagete gaan uitmaak.
Wat die res van die hengelfees betref, sal dieselfde reëls geld as tevore. Deelnemers moet gestremd wees, maar hulle mag deur helpers bygestaan word in sekere aspekte van die hengelproses.
Die dam by die Irene Country Lodge is, danksy hierdie gewilde hengelfees, die afgelope dekade gereeld opgegradeer. Daar is genoeg parkeerplek en danksy geplaveide paadjies om die dam is die viswater baie toeganklik vir mense in rolstoele.
Vir enige navrae of om in te skryf vir die hengelfees, kan Yster Smal geskakel word by 081-754-8144 of kontak hom per epos by ystersmal@gmail.com .
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
