Geen trofee, maar Noordelikes staan sterk
Die Blou Bulle se Reserweliga eindstryde van verelde naweek het nie vir die spanne van Noordelikes volgens plan verloop nie, maar daar is steeds ’n gees van dankbaarheid oor wat bereik is vanjaar en opgewondenheid oor die toekoms, wat baie goed lyk vir rugby in Pretoria noord van die Magaliesberg.
Die “nuwe” Noordelikes rugbyklub se droomseisoen het toe Saterdag op Loftus Versfeld in die eindstryde van die Blou Bulle se Reserweligas minder opwindend geëindig, maar beide die bestuur en spelers is steeds opgewonde om te bou op die positiewe aspekte van hierdie jaar van heropbou.
Hoewel beide die klub se spanne deur die loop van die seisoen baie goed gevaar het en redelik maklik vir hierdie eindstryde gekwalifiseer het, is albei in hul onderskeie einstryde gestuit.
Noordelikes se tweedes het met 0-15 verloor teen ’n baie sterk span van Westelikes, wat inderdaad teen die gees van die spel en weens persoonlike voorkeur deur die spelers baie sterker as dié klub se eerstespan is.
Hoewel die manne van Noordelikes in hierdie wedstryd deurtentyd goed van hulself rekenskap gegee het en met ’n bietjie geluk selfs sou kon wen, het Westelikes hul kanse eenvoudig beter gebruik.
Wat Noordelikes se eerstespan betref, is hulle verras deur Cullinan, wat die beste vir laaste gelos het en ooglopend baie verbeter het teenoor hul vorm vroeër die seisoen toe Noordelikes hulle geklop het. Cullinan het uiteindelik met 0-57 gewen.
Noordelikes het veral by die afbreekpunte gesukkel en baie balbesit verloor, wat veroorsaak het dat hulle nooit momentum kon bou nie.
Ná hierdie terugslae was die spelers en bestuur van Noordelikes uiteraard teleurgesteld, maar beslis nie platgeslaan nie.
Die klub se voorsitter, Johan Beukes, het gesê hy het geen verskonings nie en is steeds trots op wat die afgelope seisoen bereik is.
“Ons het uit niks begin en twee eindstryde gehaal. Ons kan steeds trots wees en daar is ’n baie goeie fondament om die toekoms op te bou. Ons sal volgende jaar sterker en beter terugkom,” het Beukes gesê
Ook die president van Noordelikes, die Bloubul legende Pote Fourie, sien uit na die toekoms.
“Ja, ons het ’n paar foute gemaak. Maar ons het ook baie goeie dinge reg gedoen. Daar sal ’n paar veranderings wees, maar ons is nie manne wat sommer gaan lê nie. Volgende jaar is ons terug,” was Fourie se positiewe boodskap.
Hoewel die seisoen verby is, kan die klub se spelers, bestuur en ondersteuners steeds uitsien na die feesdag op 1 Oktober vanjaar, wanneer Noordelikes se 75ste bestaansjaar op die klubterrein in Jopie Fouriestraat, Pretoria-Noord gevier sal word. Daar sal fees-rugby gespeel word en vermaak vir oud en jonk aangebied word, terwyl die braaivleisvure reeds vroeg aangesteek sal word.
Vir meer besonderhede hieroor kan Johan Beukes by 079-247-0501 of Jan du Toit by 083-325-3302 geskakel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






