Wêreldrekord-poging en unieke pryse deel van vanjaar se Ramcat Fish hengelfees
Die twaalfde Ramcat Fish hengelfees, wat eerskomende Sondag by die Irene Country Lodge aangebied word, sal nie net ’n wêreldrekord poging met die maak van ’n reuse boerewors rol insluit nie, maar unieke pryse is ook op die spel vir deelnemers.
Terwyl die gestremde hengelaars wat reeds ingeskryf het vir vanjaar se Ramcat Fish hengelfees hul visgereedskap gereedkry vir die groot dag eerskomende Sondag, word al die voorbereidings ook gefinaliseer om ’n unieke “erfenis wêreldrekord” by dié fees op te stel.
Die Ramcat Fish hengelfees vir gestremde hengelaars word vanjaar vir die twaalfde keer op 25 September by die Irene Country Lodge in Centurion aangebied en hierdie jaar is daar ’n kinkel op die program.
Voorbereidings is ver gevorder en borge is gevind om gedurende die hengelfees ’n aanslag te maak op ’n “erfenis wêreldrekord” waartydens die langste “erfenis boereworsrol” ooit gemaak gaan word.
Hierdie unieke boereworsrol se uitstaande kenmerk sal gesetel wees in die garnering van die brood wat as basis van die boereworsrol sal dien.
Volgens die organiseerder van die Ramcat Fish hengelfees, Gerard (Yster) Smal, sal daar in samewerking met sjef-studente van die Centurion Akademie nege verskillende garneersels ontwerp word om die boereworsrol te garneer. Hierdie nege verskillende garneersels sal die nege provinsies van Suid-Afrika verteenwoordig en kenmerkende kossoorte uit elke provinsie sal gebruik word.
Die publiek word genooi om die fees te ondersteun en die boereworsrol wat deel uitmaak van die rekordpoging sal dan later opgesny en verkoop word, terwyl dit ook sal dien as die deelnemers se middagete. Volop parkering is beskikbaar vir besoekers.
Smal het ook weer bevestig dat elke deelnemer kan reken daarop om ’n prys te wen, ten spyte van die hoeveelheid vis wat gevang word. Daar sal ook ’n spesiale prys wees wat ’n rugbybal insluit wat deur die huidige span van die Bulls geteken is. Dié prys word deur die Blou Bulle geskenk.
Voornemende deelnemers is steeds welkom om in te skryf. Deelnemers moet gestremd wees, maar hulle mag deur helpers bygestaan word in sekere aspekte van die hengelproses. Die dam by Irene Country Lodge is baie gerieflik en toeganklik vir gestremde hengelaars in rolstoele.
Sondag se verrigtinge begin om 07:00 met die registrasieproses.
Vir enige navrae of om in te skryf vir die hengelfees, kan Yster Smal geskakel word by 081-754-8144 of kontak hom per epos by ystersmal@gmail.com .
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
