Ramcat Fish stel erfenis-wêreldrekord op met reuse boereworsrol terwyl katvisse byt
Ramcat Fish se jaarlikse hengelfees vir gestremdes het vanjaar saamgeval met Erfenisdag en deelnemers aan die fees sal hierdie besonderse dag langs die Irene Country Lodge se dam nog lank onthou weens meer redes as net die vis wat gevang is.
Terwyl Suid-Afrika die afgelope naweek Erfenisdag gevier het, kon die deelnemers aan Ramcat Fish se jaarlikse hengelfees vir gestremdes op hul eie besondere wyse ook daarin deel.
Hoewel dié hengelfees oudergewoonte aan die gestremde hengelaars die geleentheid gegee het om ’n dag lank in mekaar se geselskap langs die viswater van die Irene Country Lodge se dam te ontspan, was vanjaar se hengelfees uitsonderlik met verskeie ander items wat vermaak gebied het.
Vanjaar het die weer baie goed saamgespeel en die hengelaars kon, ten spyte van ’n ligte briesie wat oor die dam gewaai het, reeds vroegdag die lyne ingooi en die katrolle laat sing.
Die manne wat die regte aas gebruik het, was suksesvol en veral in die eerste paar uur na die kompetisie afgeskop het, is heelwat babers uitgetrek. Soos gewoonlik is dié katvisse – nadat dit geweeg is – weer deur ’n organisasie wat spesialiseer in ekologiese reabilitasie in ’n groot tenk bewaar, waarna dit later na damme in die Krokodilrivier-gebied verplaas sal word.
Jason Page, gehoorgestremde deelnemer en vanjaar die hoofseun van die Transoranje skool vir Dowes, was die gelukkige hengelaaar wat vanjaar die grootste vis uitgetrek het. Sy wen-baber het 4,7kg geweeg.
Behalwe vir die borge, wat weer met ’n oop hand gehelp het om hierdie spesiale dag vir die gestremde hengelaars moontlik te maak, het verskeie organisasies weer hul dienste gratis aangebied op die terrein om die reëlings vlot te laat verloop.
Vrywilliges van die Suid-Afrikaanse Legioen, ’n organisasie vir militêre veterane, was weer op hul pos om met die administrasie en weeg van die vis te help.
Dan was daar die manne van die Round Table Pretoria 126-tak, wat as braaiers opgetree het vir die reuse hoeveelheid boerewors, wat gebruik is vir die spesiale wêreldrekord poging as deel van hierdie erfenisdag-hengelfees.
Ramcat Fish het ’n nuwe wêreldrekord opgestel met hierdie spesiale erfenis-boereworsrol, wat uiteindelik net kort van 50 meter gemeet is.
Lede van die Centurion Akademie se sjef-opleidingsdepartement was betrokke by die maak van elf soorte garnering, wat vir hierdie erfenisdag-poging die elf provinsies van Suid-Afrika verteenwoordig het.
Nog ’n nuwe item op vanjaar se program was kol. Jan Malan se duiwe-vertoning. Dié voorsitter van die SA Weermagvereniging is deesdae ’n ywerige duiweboer en net voor die hengelaars en hul helpers kon aansit om aan die rekordpoging-boereworsrol te smul, het hy ’n aanskoulike vertoning met sommige van sy wedvlugduiwe gelewer.
Uiteindelik was almal dit eens dat die hooforganiseerder van Ramcat Fish, Gerard (Yster) Smal, homself vanjaar oortref het en dat hierdie 2022 hengelfees vir gestremdes nog lank onthou sal word deur almal wat daarin kon deel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie












