Local sportSport

Noordelikes vier behoorlik fees ná 75 jaar se klubrugby

As die Noordelikes rugbyklub se afgelope seisoen bewys het dat die noorde van Pretoria genoeg talent en geesdrif het om ’n suksesvolle rugbyklub te verdien, het Saterdag se 75ste bestansjaar-fees dit ondubbelsinnig bevestig.

Hier kom die “nuwe” Noordelikes en as sekere invloedryke manne hul sin kry, sal die groei van Pretoria-Noord se eie 75-jaar oue rugbyklub op pad na die Carltonbeker liga moeilik gestuit word.

Enige vreemdeling wat Saterdag op die terrein van Noordelikes rugbyklub was, sou nooit kon glo dat dié klub ’n jaar gelede in ’n oorlewingstryd verkeer het nie. Daar is groot fees gevier, want dié klub kon met trots terugkyk op 75 jaar se geskiedenis.

Rugbywedstryde tussen verskeie uitnodigingspanne was deel van verlede naweek se Noordelikes 75-fees. Hier is aksie tydens ‘n wedstryd tussen Noordelikes en Westelikes.
Foto: Stephanie Lubbe

Sommer vroegdag het die motors by die klub se hek ingestroom en dit was die helde van môre, die jeugklub, wat dinge aan die gang gekry het met hul aksie.

Daarna het ’n baie plegtige boomplant-geleentheid plaasgevind deur oud voorsitters van die klub. Dié simboliese daad bewys dat die gees van Noordelikes nog lank nie dood is nie en ’n boomplant seremonie is waarskynlik die beste wyse om geloof in die toekoms te toon.

Daar is heerlik onder spesiale tente agter die klub se A-veld gekuier.

Feesrugby deur verskillende uitnodigingspanne was volgende op die program en selfs die “ou manne” het kans gekry om weer ’n bietjie sweet en bloed op Noordelikes se veld te stort.

Intussen het kosstalletjies en ’n bedrywige kroeg die meeste feesgangers se honger in toom gehou en hul dors geles.

Die klub se voorsitter, Johan Beukes, plant sy boom.
Foto: Stephanie Lubbe

Die aandag is laatmiddag verskuif na die tente wat opgeslaan is agter die A-veld se suidelike doellyn, waar die fees formeel afgesluit is. Eers het die kunstenaar Desmond Muller vermaak verskaf, maar later is al die manne wat betrokke was by die klub se herlewingsjaar en die organiseerders van die 75ste bestaansjaar fees met toekennings vereer, terwyl die braaivleis vure reeds hoog gebrand het.

Daar is tot laat nog gekuier deur die rugbygemeenskap van die noorde en almal was dit eens – hierdie klub moet groei en uitgebou word, sodat die jeug wat die oggend in aksie was, oor ’n paar jaar die nuwe krag van klubrugby in Pretoria kan word. Oor nog 75 jaar moet die jong spelers van die jeugklub ook as ou manne hul heerlike staaltjies kan deel oor hul avonture op en van die veld af as lede van Noordelikes.

Die twee manne onder wie se leiding Noordelikes rugbyklub vanjaar na twee dormante jare herleef het. Links is die voorsitter, Johan Beukes, en regs is die president, Pote Fourie.
Foto: Koos Venter

Noordelikes se bestuur het groot planne en daar bestaan baie moontlikhede op die klub se ruim terrein, maar een of meer sterk beleggers sal na vore moet tree as Noordelikes dieselfde opheffing wil sien as sommige ander klubs in Pretoria. Daar is reed bewys dat so ’n plan nie net die klub se toekoms sal verseker nie, maar ook ’n reuse bate vir die gemeenskap van Pretoria-Noord sal wees.

Belangstellendes kan die voorsitter, Johan Beukes, skakel by 079-247-0501.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button