Local sportSport

Geliefde oud skoolhoof en rugby-legende oorlede

Een van die Blou Bulle se bekendste skeidsregters en administrateurs, wat ook as onderwyser en skoolhoof legendariese status behaal het vir meer as een generasie skoliere, is verlede week op die ouderdom van 90 oorlede.

Alle rugbyliefhebbers in Pretoria ken die storie van die Curriebeker eindstryd van 1969, toe Frik du Preez volgens sy boesemvriend, Mof Myburgh, “gedrop, geplace en gescore” het om die WP met 28-13 te klop.

’n Feit wat bittermin egter ken, is dat die skeidsregter in daardie dag se eindstryd, Fonnie van der Vyfer van Noord-Transvaal was.

“Oom Fonnie”, soos dié geliefde skeidsregter, rugby-administrateur en skoolhoof later in Bloubul rugbykringe bekendgestaan het, is verlede week op die ouderdom van 90 oorlede. Sy gesondheid het die afgelope maande stelselmatig agteruitgegaan.

Van der Vyfer het diep spore getrap in Bloubul rugby-administrasie as skeidsregter en leier in skolerugby-kringe.

Hy was bekend as ’n baie streng, maar uiters regverdige skeidsregter wat op provinsiale- en klubvlak jare lank wedstryde beheer het. Hoewel hy nooit die geleentheid gehad het om op toetsvlak as skeidsregter op te tree nie, het hy wel plaaslik wedstryde van toerspanne van die Britse Leeus, Franse Hane, All Blacks en Wallabies hanteer.

Na sy skeidsregter-dae was Van der Vyfer vir jare betrokke by die Noord-Transvaal Hoërskole Rugby-vereniging, waar hy ook as voorsitter gedien het. Hy het ook groot bydraes gemaak met sy kennis en ervaring as lid van die Noord-Transvaal Rugby-unie se uitvoerende komitee en is later vereer met lewenslange vise-presidentskap van die unie.

Ook in sy beroepslewe het Van der Vyfer baie diep spore as onderwyser getrap. Hy het veral by twee Hoërskole legendariese status bereik. Eers as rekeningkunde-onderwyser en rugby-afrigter by Hoërskool Langenhoven en later vir 25 jaar as baie geliefde hoof van Hoërskool FH Odendaal.

Laasgenoemde skool het onder sy leiding twee Springbok atlete en ’n Springbok rugby-legende opgelewer.

Evette de Klerk se SA 100m rekord vir vroue het vir 28 jaar gestaan voor dit in 2018 verbeter is, terwyl haar SA 200m rekord (22.06s) ná 33 jaar steeds staan.

Riaan Botha was ’n wêreldklas paalspringer, Olimpiese atleet en Statebond kampioen.

Die rugby-legende, Joost van der Westhuizen, was ook een van FH Odendaal se produkte uit die Van der Vyfer era. Dis bekend dat hy ’n mentor vir Van der Weshuizen was tot met dié Springbok skrumskakel se dood in 2017.

Ander rugby-persoonlikhede vir wie Van der Vyfer as mentor opgetree het terwyl hulle as jong onderwysers onder sy leiding gewerk het, is die gewese Springbok afrigter, Heyneke Meyer en die voormalige voorsitter van die Blou Bulle se Hoërskole Rugbyvereniging, Jackie Tredoux.

Van der Vyfer was in sy pensioendae ook bekend as ywerige rolbalspeler en hy was ’n stigterslid van die Lynnwood Rolbalklub.

Geen begrafnisreëlings was nog tydens druktyd bekend nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button