Local sportSport

Centurion rugbyklub vereer helde ná suksesvolle feesjaar

Die Centurion Rugbyklub het verlede naweek hul suksesvolle, 2022 seisoen op ’n swierige noot afgesluit.

Bestuurslede, afrigters en spelers van die Centurion rugbyklub kon verlede naweek tydens ’n swierige jaareind-funksie by die Centurion Gholflandgoed saam met hul metgeselle hul sukses in ’n besondere feesjaar behoorlik vier.

Dié klub se eerstespan het natuurlik vanjaar vir die derde keer in hul 50-jarige geskiedenis die gesogte Carltonbeker gewen, toe hulle die verdedigende kampioen, Naka Bulle, op dramatiese wyse in die laaste sekondes van die eindstryd geklop het.

Dit was ook geen verrassing toe die man wat daardie sensasionele wendrie in die Carltonbeker eindstryd vir Centurion gedruk het, Curtley Brinkhuis, uiteindelik die ster van die klub se toekenningsgeleentheid was nie.

Brinkhuis is as Agterspeler van die Jaar vir die eerstespan aangewys. Daarbenewens is hy vereer as die Carltonbeker toernooi se top driedrukker van die 2022 seisoen (14 drieë), terwyl hy ook erkenning gekry het as die speler wat die meeste punte vir die eerstespan aangeteken het, naamlik 72.

Dié haastige vleuel se laaste toekenning was ’n goue eerbewys wat spelers ontvang wat meer as 80 wedstryde in die klub se kleure speel. Brinkhuis se totaal staan op 92 wedstryde, wat beteken dat hy dalk volgende seisoen die magiese 100 wedstryd-kerf kan bereik.

– Een van die klub se ou staatmakers, die losvoorspeler Albert Bakker, is ook vereer vir die 80 wedstryde wat hy vir die eerstespan op sy kerfstok het.

– Die rateltaai losvoorspeler, André Kruger, wat Centurion se eerstes ook soms op die veld gelei het vanjaar, is as Voorspeler van die Jaar aangewys.

– Die skitterende jong skrumskakel, Tiaan Meintjes, wat eintlink nog ’n junior is, maar vanjaar vir Centurion se eerstespan uitgeblink het, is as die Speler van die Jaar aangewys.

– Die eerstespan se puik hoof-afrigter, Riaan Brand, is nie net as Afrigter van die Jaar aangewys nie, maar het ook self ’n ere-toekenning van die klub gekry ná tien ononderbroke jare by Centurion.

Dave Bergmann, voorsitter van Centurion Rugbyklub, het tydens die geleentheid aan gaste inligting gegee oor Centurion se uitsonderlike geskiedenis, sedert die klub se stigting in 1972.

Hy het onder andere gewys op die klub se prestasie ten opsigte van stabiliteit en hoe hulle die afgelope dertig jaar permanent onder die top kompeteerders vir die Carltonbeker liga was. Behalwe dat Centurion die liga al drie keer gewen het, is dit een van die mees konsekwente deelnemers, wat byvoorbeeld die afgelope tien  jaar elke seisoen ten minste die halfeindronte gehaal het.

Bergman het ook interessante feite uitgelig oor die geskiedenis van Centurion rugbyklub. So byvoorbeeld was baie gaste verbaas om te hoor dat die klub aanvanklik Sportpark in Lyttelton Manor as basis gebruik het.

Centurion rugbyklub het die afgelope 50 jaar deur twee naamsveranderings gegaan en in 1985 is daar ook ’n baie suksesvolle jeugklub gestig, wat steeds jaarliks presteer en puik jong spelers vir die senior klub oplewer.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button