Naka Bulle vereer hul presteerders ná besondere seisoen
Ten spyte van die feit dat die eerstespan in die eindstryd van die Carltonbeker toernooi verloor het, het die Naka Bulle rugbyklub in 2022 steeds een van hul beste seisoene ooit beleef.
Die Naka Bulle rugbyklub het nouwel nie vanjaar daarin geslaag om hul titel as Carltonbeker kampioen te behou nie, maar dié klub word steeds gereken as Suid-Afrika se beste rugbyklub.
Dít was die getuienis van die Blou Bulle se president, Willem Strauss, tydens die spoggeleentheid op die klubterrein waartydens Naka Bulle se spelers en beamptes vereer is vir hul prestasies tydens die afgelope seisoen.
Slegs twee onverwagte nederlae in die doodsnikke van die seisoen teen Centurion rugbyklub het in die pad gestaan van Naka Bulle se eerstespan en ’n volmaakte seisoen. Tot op daardie stadium het Naka Bulle se eerstes volpunte in elke ligawedstryd verdien.
Verder is die klub se tweedespan vir die tweede jaar agtereenvolgens as kampioen in hul liga gekroon, toe hulle in die eindstryd met die Rhinos van Northam afgereken het.
Die klub se o.20 spanne het ook weer groot sukses behaal en elf van hul spelers het die geleentheid gehad om junior provisiale rugby te speel. Die goeie verhouding tussen die klub se o.20 bestuur en die Internasionale Rugby Instituut (IRI), wat op die klubterrein bedryf word, het ook aan nege jong spelers die geleentheid gegee om by klubs in Europa betrokke te raak.
Hoewel slegs enkele van die senior spelers deur die loop van die seisoen by die provinsiale strukture van die Blou Bulle betrek is, is die algemene gevoel by kenners binne en buite die klub se strukture dat Naka Bulle oor verskeie spelers beskik wat goed genoeg is om selfs op Curriebeker vlak te presteer.
Strauss het aan gaste by die prysuitdeling ’n voorskou gegee oor wat volgende jaar verwag kan word. Met ’n hoogs kompeterende Paastoernooi in Pretoria, asook die herlewing van die nasionale klubkampioenskap (Gold Cup), kan liefhebbers van klubrugby uitsien na volop eersteklas aksie op klubvlak.
Daar word ook tans op die hoogste vlak gewerk aan die moontlikheid om binnekort ’n nasionale o.20 toernooi op klubvlak in Suid-Afrika te vestig.
As daar nog enige twyfel was by skeptici oor die kwaliteit en toekoms van klubrugby in Pretoria, sou die verskeidenheid en standaard van spelers wat op Naka Bulle se prysuitdelingsgeleentheid vereer is hul monde finaal gesnoer het.
Ook die Naka Bulle Jeugklub se sukses onderstreep die feit dat hierdie klub gevestig is as voorkeur rugbytuiste onder die gemeenskap van die Moot. Die klub het vanjaar 342 jong seuns gehad wat as ingeskrewe lede van die Jeugklub bedrywig was.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
















