“Kom speel saam,” nooi Sonneblom Jukskeiklub
Die Sonneblom Jukskeiklub in die Moot van Pretoria gaan van krag tot krag en lede van dié klub presteer op verskeie vlakke van dié gewilde sportsoort.
Ná die beproewings wat gewone burgers van die land moes deurmaak tydens die inperkings-maatreëls weens die Covid krisis, sien baie mense weer die voorreg om in die buitelug te verkeer en met vriende te sosialiseer vanuit nuwe perspektief.
Lede van die Sonneblom Jukskeiklub in die Moot van Pretoria is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hulle beoefen hierdie gewilde sportsoort op verskeie vlakke en vir elke lid is daar ’n manier om homself uit te leef en te geniet tussen vriende.
Die klub is wel deel van die liga strukture van Gauteng-Noord Jukskei, maar vir lede wat net op sosiale vlak wil deelneem, is daar ook ruim geleentheid om dit te doen.

Foto: Koos Venter
Hoewel daar geen ouderdomsbeperking vir lidmaatskap is nie, is baie van die klub se lede afgetrede persone en daarom kan hulle selfs in die week bymekaarkom en saam tyd spandeer op die jukskeibaan.
Ernstiger lede van die klub presteer egter op die hoogste vlak. Twee spelers van die klub was juis verlede week in Kroonstad, waar die jaarlikse Suid-Afrikaanse senior kampioenskap aangebied is. Dit het plaasgevind op die bekende Jukskeipark in dié Noord-Vrystaatse dorp, wat al vir 70 jaar die mekka van jukskei in Suid-Afrika is.

Foto: Koos Venter
Verlede maand is die jaarlikse Suid-Afrikaanse senior Akademie-kampioenskap ook by Jukskeipark aangebied en vier van die Sonneblom Jukskeiklub se spelers het hul provinsie daar verteenwoordig.
Aan die einde van April sal die klub ook verteenwoordig wees wanneer die kampioenskap vir persone ouer as 60 in Kroonstad plaasvind, terwyl die nasionale Meesterskampioenskap ook nog later vanjaar in Oktober voorlê.

Foto: Koos Venter
Vir die meeste lede van die Sonneblom Jukskeiklub gaan dit egter oor deelname en die kameraderie wat ervaar word, ongeag op watter vlak die speler deelneem. Daarom word enige belangstellende deelnemers genooi om Maandae en Woensdae oggende tussen 08:00 en 10:00 aan te meld by die jukskeibane op die hoek van Swemmerstraat en 18de laan (oorkant die Moot hospitaal).
Vir verdere navrae kan die klub se voorsitter, Pieter Naudé, gekontak word by 082-615-4974.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
