Pretorianer jag medaljes by wêreldspele vir orgaan-oorplanting oorlewendes
’n Jong student van Pretoria was tot die afgelope naweek in Perth, Australië, waar hy probeer het om vir die vierde keer medaljes vir sy land te wen by die ‘World Transplant Games’, ‘n sportbyeenkoms waar sportmanne wat orgaanoorplantings ondergaan het teen mekaar op die sportveld meeding.
Die wêredspele vir mense wat orgaanoorplantings gehad het, bekend as die ‘World Transplant Games’, is die afgelope naweek in Perth, Australië afgehandel.
’n Jong student van Pretoria, Jacques Boshoff, kan met reg as ’n veteraan van hierdie spele beskou word en hy is op pad terug na Suid-Afrika, nadat hy vir die vierde keer deel was van dié besondere skouspel.
Die 20-jarige Boshoff, ’n onderwys student aan die Universiteit van Pretoria, is in 2002 gebore met ’n mediese toestand wat disfunkie in sy een nier tot gevolg gehad het.
Hoewel hy van jongs af baie sportief en aktief was en selfs Bulletjie-rugby in sy eerste jare aan die Laerskool Voorpos gespeel het, was dit gou duidelik dat sy gesondheidsprobeleme besig is om te vererger.
Toe Boshoff 12 jaar oud was het sy dapper ma, Linda, besluit om een van haar niere aan haar seun te skenk, om nie net sy lewenskwaliteit te verbeter nie, maar waarskynlik ook sy lewe te red.
Die operasie was ’n sukses en Boshoff kon ná die herstelproses aangaan met sy lewe. Hoewel hy uiteraard nie weer aan enige kontaksport kon deelneem nie, het sy mediese geskiedenis hom beslis nie van die sportveld afgehou nie. Hy het begin uitblink op die kriektveld, op die tennisbaan en as gholfspeler, terwyl hy ook kompeterend tafeltennis speel.
Boshoff het aan kompetisies van die South African Transplant Sports Association (SATSA) begin deelneem en gou as tennis- en gholfspeler uitgeblink, terwyl hy ook as atleet in die krieketbal-gooi item presteer het.
SATSA is ook geaffilieer by die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, wat dit moontlik maak om in amptelike SA kleure aan die tweejaarlikse wêreldspele deel te neem.

Foto: Verskaf
In 2013 het Boshoff as elfjarige seun aan sy eerste wêreldspele deelgeneem toe dit in Durban aangebied is. Daar het hy ’n goue medalje in tennis gewen en silwer in die kriektbalgooi.
Tydens die 2017-spele in Spanje het hy twee keer goud gewen, ook in tennis en krieketbalgooi, terwyl hy die silwer medalje in tafeltennis verower het.
Die laaste wêreldspele het voor die Covid krisis in 2019 plaasgevind en by dié geleentheid, wat in Engeland plaasgevind het, het Boshoff weer twee goue medaljes verower in tennis en krieketbalgooi.
Dié jong sportster presteer nie net as orgaanoorplantings-atleet nie. Hy het sedert sy skooldae al vir Hoërskool Oos-Moot se eerstespan tennis gespeel, terwyl hy deesdae op die gholfbaan van ’n 14 voorgee af speel.
Hy speel tans tennis vir Tuks en hy het sy universiteit reeds by die USSA toernooi verteenwoordig, terwyl hy ook Gauteng-Noord kleure in dié sport verwerf het.
Een van sy beste herinneringe is toe hy in Februarie 2020, tydens die “Match in Africa”-skouspel in Kaapstad ’n baljoggie kon wees toe die tennis legendes, Roger Federer en Rafael Nadal, mekaar in ’n vertoonwedstryd gepak het.
Boshoff se sporttalent is beslis deel van sy DNA. Sy pa, Francois, was ’n bekende naelloper en 400m atleet in die 1980’s en vroeë 1990’s. Ma Linda het op haar dag provinsiale hokkie gespeel vir Natal.
Jacques is die oudste van drie broers en sy kleinboet, ook Francois, lyk of hy in hul pa se spore gaan volg as naelloop atleet. Hy ryg reeds die medaljes op die atletiekbaan in as graad-9 skoolseun aan die Afrikaans Hoër Seunskool Pretoria.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
