Local sportSport

Verdedigende kampioen kry pak in eerste week van Carltonbeker toernooi

Die aksie in die eerste Carltonbeker wedstryde van die seisoen dui daarop dat liefhebbers van klubrugby hul lippe kan aflek vir ’n baie interessante seisoen wat voorlê.

Die Carltonbeker toernooi van 2023 het die afgelope naweek afgeskop en reeds in die eerste week was daar ’n verrassing onder die uitslae.

Sal dit vanjaar uiteindelik Harlequins se jaar wees? As hulle kan voortbou op die goeie begin in vanjaar se reeks, is daar geen rede waarom dié klub uit Geroenkloof nie hul eerste Carltonbeker sedert 2017 kan wen nie.

Eintlik wag die volbloed Harlequins ondersteuners al baie langer as vyf jaar vir glorie, want in 2017 is hulle as kampioen gekroon onder die vaandel van Quins-Bobbies, slegs ’n jaar nadat Harlequins en die gewese Pretoria Polisie rugbyklub saamgesmelt het. As ’n mens eerlik moet wees, was die Bobbies se invloed op die klub op daardie stadium nog baie groot.

Twee jaar gelede is die Quins-Bobbies huwelik egter beëindig en deesdae word die klub weer geheel op die eeuoue Harlequins tradisie bedryf.

– Harlequins het Saterdag in die eerste Carltonbeker wedstryd van die jaar wraak geneem teen die uiteindelike kampioen van 2022, Centurion, wat hulle verelde jaar op verrassende wyse in die halfeindrondte uitgeskakel het.

Die Quins-manne het verlede seisoen tweede op die punteleer geëindig, maar moes in die halfeindronte teen Centurion die knie buig.

Saterdag het die Blokkiestruie die bordjies verhang om ’n harde en spannende stryd met 36-34 te klop. Die verskil was uiteindleik een doelskop, aangesien elke span vyf keer gedruk het.

Soos die telling aandui, was daar groot spanning tot die eindfluitjie geblaas is in die wedstryd tussen die twee eerstespanne.

Nadat Centurion die eerste helfte oorheers het en teen halftyd met 22-10 voorgeloop het, was dit Harlequins wat in die tweede helfte teruggeveg het. Hulle was só effektief in hul terugveg poging, dat hulle op ’n stadium met 29-22 voorgeloop het ná drie puik drieë.

Daarna was dit ’n armdruk-stryd in die laaste tien minute. Harlequins het egter daarin geslaag om – ná nog twee drieë deur Centurion – die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd te druk vir die naelskraapse oorwinning.

Quins het Saterdag boonop gewys dat hulle baie goeie diepte het by dié klub. Hul tweedespan (Harlequins Red) het Centurion met 35-11 geklop, terwyl die oorwinning vir Harlequins se derdes (Harlequin Jesters) teen hul eweknië van Centurion selfs groter was – 71-12.

– Verlede jaar se Carltonbeker finalis, Naka Bulle, het hul seisoen ook op ’n hoë noot begin met ’n goeie oorwinning teen die ander span van Groenkloof, Pretoria Rugbyklub.

Die Manne van die Moot het 12 drieë ingeryg teen Pretoria se drie drieë, om met 74-20 te wen.

Naka Bulle het ook skoonskip gemaak met ’n groot oorwinning vir hul tweedespan (73-8), terwyl die derdes harder moes werk om Pretoria met 17-12 te klop.

– In die Bosveld het die twee “mynspanne”, soos hulle alom bekend is in die Carltonbeker toernooi, mekaar aangedurf.

Northam se Rhinos, wat reeds ’n gevestigde span in die liga is en die afgelope twee seisoene realistiese aanspraakmakers op die trofee was, het die nuweling, die Wolverines, op hul tuisveld in Northam aangedurf.

Die Rhinos was uiteindelik redelik maklik baas met 46-20, nadat hulle agt keer die doellyn kon oorsteek in ’n baie opwindende wedstryd.

Hoewel die Wolverines net twee drieë gedruk het, het hulle beter teenstand gebied as was die telbord suggereer. Dié span, wat op Skeerpoort net buite Hartbeespoort gesetel is, gaan beslis vanjaar die top spanne behoorlik toets, veral as hulle eers aan die standaard van die toernooi gewoond begin raak.

– Die eerste rondte wedstyd tussen Tuks en die Tuine se Grizzlies sal op ’n later stadium afgehandel word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button