Local sportSport

Tuis nederlaag vir verdedigende Carltonbeker kampioen

Die strawwe kompetisie in die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker toernooi word bewys deur die feit dat daar na afloop van slegs twee weke se aksie net drie van die agt spanne is wat nog met ’n onoorwonne rekord kan spog.

Nadat die verdedigende Carltonbeker kampioen, Centurion Rugbyklub, verlede week naelskraaps teen Harlequins op laasgenoemde se tuisveld verloor het, kon hulle in week twee van die kompetisie wéér net-net nie die pyp rook op hul tuisveld teen die Rhinos van Northam nie.

Intussen het Northam se kleinboeties, die Wolverines van Skeerpoort, hul eerste oorwinning in die Carltonbeker toernooi behaal, terwyl Tuks en Naka Bulle saam met Northam die drie onoorwonne spanne ná die eerste twee weke van aksie in die toernooi is.

– Northam is nou reeds in hul derde seisoen as deel van die Carltonbeker liga, nadat hulle via die destydse Super Klubliga sedert 2018 deel van die plaaslike klubrugby opset geword het.

Centurion se vaste voorspelers op die aanval, met haker Igno Venter wat die bal ontvang.
Foto: Koos Venter

Dié klub het reeds bewys dat hulle gekom het om te bly en hul krag word vanjaar uitgebou met verskeie spelers-aanwinste, terwyl die bekende deurwinterde voormalige Northern Bulls afrigter, Phil Pretorius, vanjaar die teuels vasvat as die Bosvelders se hoof-afrigter.

Die Rhinos het Saterdag hul oorwinning van 31-28 oor Centurion gebou om die kragspel van hul swaar pak voorspelers, waaragter die geoefende skopvoete van hul skakelpaar, Percy Williams en Johnny Welthagen (albei gewese Junior Bokkies) die lewe vir die tuisspan bitter moeilik gemaak het.

Met hul tienman resep en Patrick Mathe (flank) en Khwezi Mkhafu (haker) se waardevolle werk by die afbreekpunte het die Rhinos vorentoe bly speel en veral in die eerste helfte die manne van Centruion gefrustreer en uitoorlê.

Terwyl die besoekers twee keer gaan druk het in die eerste skof, kon Ian Trollip (losskakel) en Kevin Osborne (senter) met hul stelskopwerk die tuisspan darem laat byhou op die telbord. Die rustydtelling was 12-9 in die Rhinos se guns.

Northam wen lynstaanbesit in Saterdag se genadelose Carltonbeker wedstryd tussen dié klub uit die Bosveld en die verdedigende kampioen, Centurion.
Foto: Koos Venter

In die tweede helfte het Centruion beter begin skrum en dít het aan hulle die nodige momentum gegee om, ná nog drie drieë deur die Bosvelders, terug te kon veg.

Terwyl die swaar voorspelers van Northam se longe duidelik in die laaste kwart van die wedstryd begin brand het, het die verdedigende Carltonbeker kampioen die bal lug begin gee en drie keer in die laaste twintig minute gedruk.

Uiteindelik was dit die horlosie wat die tuisspan geklop het. Hulle het die wedstryd begin oorheers, maar die tyd het uitgeloop.

– Ná Tuks se rampspoedige Varsitybeker seisoen, lyk dit of daar in die Carltonliga tog ’n poging aangewend gaan word om so bietjie aansien vir die klub te herwin.

Tuks het in hul eerste wedstryd van die toernooi die Grizzlies met 43-24 geklop en die afgelope Saterdag het hulle ook die span van Pretoria Rugbyklub met 41-17 afgestof. Dus, volpunte op die punteleer vir Tuks, na twee wedstryde.

Met alle respek moet daar egter genoem wor dat die studente se toets om hul herlewing te bewys eerskomende naweek werklik sal begin, wanneer hulle een van die sterker spanne in die reeks, Harlequins, op hul tuisveld op die Tuks Sportkampus sal aanvat.

Tuks se puntemakers teen Pretoria.
Foto: Facebook

– Die Grizzlies van Tuine, wat verlede jaar baie goed gevaar het in die Carltonbeker toernooi en intussen permanente Carltonbeker status van die Blou Bulle Rugby-unie ontvang het, sal hul sokkies moet optrek as hulle weer onder die top ses in die reeks wil eindig.

Die Grizzlies is die afgelope naweek in ’n opwindende wedstryd deur die nuweling, die Wolverines, met 40-30 geklop.

Daarmee het die Wolverines, wat in Skeerpoort gebasseer is en net soos Northam deur ’n myngroep gerugsteun word, gewys dat hulle ook gekom het om te bly. Dié span behoort van krag tot krag te gaan en hulle gaan beslis vanjaar nog ’n paar van die groottes in die toernooi goed skrikmaak.

– Naka Bulle speel steeds sonder sommige van hul eerstekeuse spelers wat by die Msanzi Challenge betrokke is, maar dié klub se diepte word bewys deur die feit dat hulle die afgelope naweek met Harlequins (44-36) kon afreken.

Die manne van die Moot het sewe keer gaan druk, terwyl Harlequins self ’n ekstra bonuspunt verdien het met hul vyf drieë.

Naka Bulle se puntemakers teen Harlequins.
Foto: Facebook

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button