Local sportSport

Noordelikes maak planne om legendariese kuierplek te restoureer

Ná die herlewing van Noordelikes rugbyklub in 2022 bestaan die behoefte nou om die klub verder uit te bou en ’n behoorlike klubhuis is een van die dringende prioriteite vir die bestuur van die klub.

“Dit was die goeie ou dae…”

Hierdie woorde is die mees algemene opinie van rugbymanne wat deel was van die Noordelikes rugbyklub se gloriedae wanneer hulle gepols word oor die sogenaamde “Sink Kaya” op die klub se terrein, wat vroeër jare ook as hul nie-amptelike klubhuis gedien het.

Dié eenvoudige struktuur is deesdae ietwat stowwerig en verwaarloos, maar die kroegtoonbank is nog daar en die basiese struktuur is redelik stewig.

Die bestuur van Noordelikes het groot drome om die klub in ’n ware gemeenskapsklub te omskep waar die mense van Pretoria-Noord met trots ’n sosiale tuiste kan hê. Dit sluit op die langer termyn ’n behoorlike klubhuis met kroeg- en restaurant fasiliteite in.

Totdat gewillige beleggers na vore tree om die finansies vir só ’n sosiale spilpunt vir die noorde moontlik te maak, beplan die bestuur van Noordelikes egter om dié legendariese ou gebou op te knap, sodat dit weer vir onthale en sosiale geleenthede gebruik kan word.

Een van die klub se strydrosse en voormalige voorsitter, Jan du Toit, het Rekord verlede week vergesel om die “Sink Kaya” te besoek.

Volgens Du Toit is dié struktuur ouer as die paviljoen-gebou van die klub en het dit in die vroeë 1970’s gedien as aantrekkamer vir beide tuis- en besoekende spanne. Reg langs die gebou is ook baksteen strukture, wat die klub se oorspronklike toiletgeriewe gehuisves het.

Du Toit het die ou braaigeriewe langs die gebou uitgewys en verduidelik hoe daar destyds gekuier is na tuiswedstryde by dié fasiliteit.

“Nadat die paviljoen met kleedkamers hier rondom 1971 gebou is, het ons besluit om die struktuur in ’n klubhuis te verander. Fondse is ingesamel en die gemeenskap het bygedra om boumateriaal te koop, sodat die “Sink Kaya” in ons klubhuis omskep kon word,” het Du Toit vertel.

Volgens Johan Beukes, voorsitter van Noordelikes, is daar ’n behoefte om ’n fasiliteit op die terrein te hê waar sosiale geleenthede aangebied kan word. Die sogenaamde “losie” op die paviljoen is wel ’n groot bate vir die klub, maar nie heeltemal groot genoeg as groter funksies aangebied moet word nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button