Nuwe uitdagings in sterker liga vir Noordelikes
Die Noordelikes rugbyklub in Pretoria-Noord se droom om ’n volwaardige gemeenskapsklub te word vorder fluks en die klub se verpligtinge in hul nuwe liga het die afgelope naweek afgeskop.
Die nuwe klubrugby seisoen het die afgelope naweek afgeskop vir spanne in die Blou Bulle se Presidentsliga en een van die nuwelinge in dié geledere, is Noordelikes.
Die bestuur van dié klub in Pretoria-Noord, wat verlede seisoen die Reserweliga eindstryd met beide hul eerste- en tweedespanne gehaal het, het intussen gewoel om gereed te wees vir nuwe uitdagings in 2023. Ná verlede jaar se sukses is die klub gepromoveer tot die Presidentsliga, waar hulle vanjaar ’n paar harde neute sal moet kraak om weer suksesvol te wees.
Noordelikes was oor die Paasnaweek die gasheer van die Jopie Fourie Fees, waaraan agt klubs uit die strukture van die Blou Bulle en die Luiperds deelgeneem het.
Intussen het die nuwe hoof-afrigter, Danie Engelbrecht, en sy kollegas skouer aan die wiel gesit om die klub se spelers gereed te kry vir die taai nuwe seisoen wat voorlê.
Engelbrecht glo dat sy manne reg sal wees vir die uitdaging. Hoewel die belangstelling goed is en oefeninge fluks verloop, nooi Engelbrecht steeds alle belangstellende spelers om deel te word van die reis by Noordelieks, waarin die einddoel is om klubrugby in die noorde van Pretoria weer tot sy reg te laat kom.
Die langtermyn doel is nie net om ’n klub met Carltonliga status te bou nie, maar ook om ’n volwaardige gemeenskapsklub te word waarop elke inwoner van die gemeenskap noord van die Magalies trots kan wees.
Oefeninge vind plaas op Dinsdae en Donderdae en spelers word versoek om teen 18:00 by die klub aan te meld.
Vir meer besonderhede, skakel die voorsitter, Johan Beukes by 079-247-0501.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
