Local sportSport

Grizzlies skok Harlequins, Northam bly onoorwonne

Die Carltonbeker toernooi het nóg ’n skok-uitslag opgelewer, terwyl die Northam se Rhinos uit die Bosveld, na vier weke se aksie nou die enigste onoorwonne span in die liga is.

Ná vier weke en die afhandeling van die eerste vier ligaverpligtinge vir die agt spanne in die Blou Bulle se Carltonbeker liga, is die Rhinos van Northam die enigste onoorwonne span.

Die Rhinos word vanjaar deur die bekende en deurwinterde afrigter, Phil Pretorius, gebrei. Hulle speel ’n baie eenvoudige, maar beproefde en effektiewe styl van rugby. Met ’n groot, swaar pak voorspelers oorheers hulle hul teenstanders voorlangs, terwyl hul Junior Springbok skakelpaar, Percy Williams en Johnny Welthagen, sake dan met die skopvoet dikteer.

– Northam het Saterdag sewe keer agter die doellyn gaan kuier om Tuks, wat die ander onoorwonne span in die liga was, in ’n opwindende wedstyd met 49-38 te klop.

Teen rustyd was die Bosvelders stewig in beheer en hulle het met 28-7 voorgeloop.

Tuks het egter in die tweede helfte positiewe rugby begin speel, nadat hulle danksy die harde werk van hul lostrio beter en meer besit gekry het. Die studente het besluit om die bal lug te gee en skielik het Northam begin kleitrap toe Tuks kruis en dwars aangeval het. Tuks se heelagter, Kyle Cyster, het veral die verdedigers laat bontstaan het met sy gevaarlike lopies.

Binne 15 minute het Tuks hul agterstand uitgewis met drie drieë – twee deur regtervleuel Tharquin Manuel en een deur Cyster – en net twee verbroude doelskoppe het verhoed dat die telling gelykop was.

Hierna het die twee spanne om die beurt elk nog twee keer gaan druk en met drie minute speeltyd oor was die punteverskil weer net vier punte en enigiets was moontlik.

Die tuisspan kon egter in die doodsnikke net nie hul hande op die bal kry nie. Die Bosvelders het met puik dissipline positief bly aanval en die bal deur verskeie fases geneem, waarna hul linkervleuel, Warren Williams, in die hoek oor is met die toeter in die agtergrond.  Hierdie drie het Tuks van ’n waardevolle bonuspunt beroof.

Juan van der Westhuizen wen lynstaanbesit vir Naka Bulle in hul Carltonbeker wedstryd Saterdag teen die verdedigende kampioen, Centurion.
Foto: Johnna se Vos

– Die Grizzlies van Tuine het vir die skok van die naweek gesorg, toe hulle Harlequins op laasgenoemde se tuisveld in Groenkloof met 32-28 geskok het.

Harlequins, wat een van die voorseisoen gunstelinge in vanjaar se toernooi was, sal waarskynlik diepe introspeksie gaan doen ná dié terugslag. Hulle was kort na rustyd nog met 18-6 voor op die telbord en op daardie stadium wou dit lyk of die Blokkiestruie maklik sou wen.

Swak verdediging in die middelveld deur Quins het egter aan die Grizzlies twee maklike drieë binne drie minute besorg en skielik was dit die tuisspan wat ’n agterstand moes uitwis.

’n Strafdoel deur Hendrik Mulder en ’n mooi drie deur linkervleuel, Gerhard Botha, het aan Harlequins weer ’n goeie voorsprong gegee. Hulle het hulself egter blykbaar misgis met die manne uit die Weste se veggees.

Eerstens het klipharde verdediging van die Grizzlies verskeie kanse van Harlequins in die wiele gery, terwyl hulle die tuisspan aan die slaap gevang het met ’n tikskop-beweging van die halflyn af, wat op skrumskakel Michael Huart se drie uitgeloop het.

Harlequins het met twee minute se spel oor besluit om ’n strafskop eerder lyn toe te stuur. Toe hulle egter by die lynstaan besit verloor, het die Grizzlies hul kans benut. ’n Dwarsskop het in hul haastige regtervleuel, Christian Kitenge, se hande beland en nadat hy sowat 50 meter gevorder het, het hy aan heelagter Michael Jacobs gegee, wat die wendrie kon gaan druk.

–  In die Moot het Naka Bulle ’n klipharde armdruk-stryd die herhaling van verlede jaar se eindstryd met 24-18 teen Centurion gewen.

Die tuisspan was teen rustyd reeds met 12-10 voor en hulle het uiteindelik vier keer gaan druk, teenoor die verdedigende kampioen se twee drieë.

Centurion se probeleme groei weekliks en hulle is steeds wenloos, terwyl slegs die ander span wat nog nie kon wen nie, Pretoria, onder hulle op die puntelys lê.

– Van Pretoria gepraat, dié span speel gladnie slegte rugby nie, maar kort duidleik ’n paar sterre in sleutel posisies.

Pretoria het die jongste slagoffer geword van die nuwelinge in die toernooi, die Wolverines van Skeerpoort. Laasgenoemde het die stryd met 49-31 gewen, nadat hulle sewe keer teen Pretoria gedruk het. Die tuisspan het self ’n bonuspunt verdien deur vier keer agter die doellyn te gaan kuier.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button