Gemengde sukses vir plaaslike skole in Noordvaal beker toernooi
Terwyl Affies ’n spannende Trans-Jukskei derby teen Jeppe Boys High gewen het en Garsfontein vir Marais Viljoen behoorlik afgeslag het, het Waterkloof drooggemaak teen EG Jansen van die Oos-Rand en Menlopark het wéér groot slae gekry teen Noordheuwel.
Hoewel Hoërskool Waterkloof se eerstespan twee bonuspunte uit hul nederlaag van 26-31 teen Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg verdien het, sal hulle dié wedstryd so gou moontlik uit die geheuebank wil uitwis.
Waterkloof, wat tuis gespeel het, was sommer vroeg in beheer van sake, wat gelei het tot drieë deur haker Stephan Jacobs en buitesenter Happy Makate.
Ná ’n halfuur se spel het die krag van Waterkloof se voorspelers aan hulle hul derde drie besorg vanaf ’n lynstaan dryfbeweging. Dit het beteken dat die Klofies teen rustyd met 19-0 voorgeloop het en op daardie stadium was hulle beslis in beheer van sake.
Die tuisspan het die tweede helfte op dieselfde wyse as die eerste begin, toe linkervleuel, Sjaan Steyn, ’n bal onderskep het om sowat 55 meter te nael vir sy drie, wat ook ’n bonuspunt vir sy span beteken het. Na die doelskop was die telling 26-0 en mens sou die Klofie ondersteuners kon vergewe as hulle geglo het hierdie een is reeds in die sakkie.
Ongelukkig het die Boksburgers ander idees gehad en hul terugvegpoging het onmiddelik daarna begin toe plaasvervanger senter Matthew Bergman ’n horde Klofie verdedigers geklop het om onder die pale oor te duik.
Bergman was ook instrumenteel in linkervleuel, Cameron van Wyk, se eerste drie met ’n puik oorslaan aangee.
’n Effens omstrede strafdrie aan EG Jansen en gevolglike geelkaart vir een van die Klofies se uitblinkers, flank Jean Jooste, het die Oosranders laat bloed ruik met die telling op 26-19 en ’n kwartier se speeltyd oor.
Toe Van Wyk boonop twee minute later weer deursuiker nadat hy ’n aangee onderskep het, was die vet in die vuur en die telling skielik gelykop, 26-elk.
Van Wyk het sy driekuns voltooi met tien minute se speeltyd oor, wat beteken dat die besoekers met ’n blitzkrieg van 19 punte binne vyf minute toegeslaan het om die wedstyd op sy kop om te keer.
Die Klofies-manne sal hulself skop na hierdie nederlaag, want dit was beslis onnodig. Hulle het regdeur die wedstryd verskeie kanse verbeur om punte aan te teken. Onnodige en ongedwonge foute het ook veroorsaak dat hul momentum gedurig versteur is, veral in die eerste helfte toe hulle nog in beheer van die spel was, sowel as in daardie spannende laaste tien minute.

Foto: Facebook
– Op Berepark in Garsfontein het die tuisspan, Hoërskool Garsfontein, korte mette gemaak met hul taak om hul teenstander, Hoërskool Marais Viljoen van Alberton, met 62-12 te oorrompel.
Die besoekers het daarin geslaag om vir sowat agt minute vas te byt, maar toe vaskopstut Leighton-Jon Cloete oorduik vir sy span se eerste drie, het die damwal stuk-vir-stuk begin meegee.
Garsfontein het uiteindelik alle aspekte van die spel oorheers en gewys dat hulle beslis die span is om te klop in hierdie kompetisie, veral as in ag geneem word dat sommige van hul eerstekeuse spelers weens beserings en siekte nie beskikbaar was nie.
Die Garsie Bere het uiteindelik tien keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Marais Viljoen dit slegs twee keer kon regkry.
– Hoërskool Menlopark se sukkel-seisoen duur steeds voort.
Die Parkies het Saterdag na die Wesrand gereis om Hoërskool Noordheuwel daar te pak, maar is met die kous oor die kop huis toe ná ’n nederlaag van 12-73.
Noordheuwel het nege keer gaan druk, terwyl Menlo slegs twee keer die doellyn kon haal.
Dinge raak ook nie makliker vir die Parkies nie. Hulle kry eerskomende naweek wel ’n blaaskans van die Noordvaal Beker reeks, maar speel wel gasheer vir Afrikaans Hoër Seunskool (Affies). Hoewel lasgenoemde ook volgens hul eie standaarde ’n swakkerige seisoen beleef, sal ’n oorwinning vir Menlopark waarskynlik die opskudding van die seisoen wees.

Foto: Facebook
– Van Affies gepraat, die Wit Bulle het hul Trans-Jukskei derby teen Jeppe Boys High op sensasionele wyse met ’n wendrie in die laaste minuut gewen. Die eindtelling was 33-31 in die guns van die Pretorianers.
Affies was rustyd met 19-14 voor, maar die Johannesburgers het kort na die aanvang van tweede helfte twee skitter drieë kort na mekaar gaan druk om skielik met 28-19 voor te loop.
Getrou aan hul veggees het Affies byna onmiddelik teruggeslaan met ’n voorspeler drie om die punteverskil net twee te maak.
’n Strafdoel vir Jeppe het hul voorsprong na vyf punte gerek, wat die laaste 12 minute in ’n spanningsvolle tweestryd laat ontaard het. Met slegs ’n minuut se speeltyd oor het Affies ’n lynstaan dryfbeweging naby die doellyn begin, waarna die bal vinning lings geskuif is in die hande van die agtsteman Dieter Schubert, wat tussen twee verdedigers deur geduik het om langs die pale oor te gaan.
Heelagter Michael de Lange se doelskop het gesorg vir die wenpunte.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
