Northam lyk na sterkste kandidaat om Lukas Strachan skild te wen
Die Carltonbeker toernooi beweeg nou vinning na vanjaar se halfpadmerk en op hierdie stadium lyk dit nie of Northam se Rhinos sommer gestuit gaan word op hul pad om die Lukas Strachan Skild te wen nie.
Met twee wedstryde elk wat in die eerste rondte van vanjaar se World Sports Betting Carltonbeker toernooi oorbly vir die agt spanne in die liga, lyk dit of die Northam Rhinos goed op pad is om die Lukas Strachan Skild te verower.
Dié skild word toegeken aan die span wat halfpad deur die toernooi bo aan die punteleer lê. Met die Rhinos wat die enigste onoorwonne span in die liga is en die afgelope naweek wéér ’n groot oorwinning behaal het, gaan hulle moeilik oor die volgende paar weke ingehaal word om dié trofee van hulle weg te hou.
– Die Bosvelders het die afgelope naweek in die weste van Pretoria by die Grizzlies van Tuine gekuier en hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in die toernooi behaal deur die tuisspan met 47-12 te klop.
Northam se resep bly week vir week dieselfde en hul swaar pak voorspelers het weer die grondslag gelê met hul gevaarlike dryfbewegings en goeie samespel, vanwaar die agterlyn kon aanval. Sodoende het die Rhinos sewe drieë ingeryg, terwyl die tuisspan slegs twee keer gaan druk het.
Hoewel die telbord dit nie suggereer nie, is die Grizzlies nie geheel oorskadu nie. Hulle het veral by tye goed geskrum en was self nie bang om die bal lug te gee as hulle wel besit in die hande kon kry nie.
As die manne van die weste daarin kan slaag om meer bestendig te wees – veral op die verdediging – sal hulle waarskynlik nog ’n paar groottes skrikmaak, soos hulle in die verlede al kon regkry.
– In Groenkloof het die buurklubs aan weerskante van Totiusstraat, Pretoria en Harlequins, mekaar in hul jaarlikse derby om die Naas Botha wisseltrofee op eersgenoemde se veld gepak.
Harlequins het stadig begin, maar metteryd momentum begin bou, veral nadat hul pak voorspelers behoorlik beheer van sake oorgeneem het.
Die teenwoordigheid van die Bloubul gekontrakteerde haker, Tiaan Lange, het baie vir die tuisspan beteken. Hy was die vonk wat sy spanmaats nodig gehad het om voorlangs met mening in te klim. Lange moes ongelukkig die veld na ’n haluur verlaat ná ’n harde hou teen die kop en daarna het Pretoria heelwat stoom verloor.
Quins het uiteindelik agt keer gedruk om ’n goeie bonuspunt oorwinning van 55-21 te behaal, wat hulle laat opskuif na die vyfde plek op die punteleer, nadat hulle in die eerste paar weke soms gesukkel het.
Pretoria is inderwaarheid ’n goed afgerigte span wat baie positiewe rugby speel. Ongelukkig het hulle – hoofsaaklik weens finansiële redes – nie dieselfde diepte as die meeste ander spanne nie en sukkel dus om behoorlik deur te breek.

Foto: Verskaf
– Op Centurion rugbyklub se veld was daar ook ’n trofee op die spel toe Tuks en die tuisspan meegeding het om die Bergman-Claasen skild, wat jaarliks in die eerste wedstryd tussen dié twee klubs op die spel is.
Centurion, wat die verdedigende Carltonbeker kampioen is, se teëspoed duur steeds voort en hulle is Saterdag op hul tuisveld met 35-22 deur die studente geklop.
Tuks het ses drieë teen Centurion se drie gedruk, wat beteken dat die manne uit die suide sonder enige ligapunte van die veld af is.
– Nadat die nuweling in die toernooi, die Wolverines, drie van hul eerste vier wedstryde gewen het, was hulle sterte in die lug.
Dié sterte is egter die afgelope naweke behoorlik deur die Naka Bulle geknoop, toe laasgenoemde die myners met 52-38 op hul tuisveld in Skeerpoort geklop het.
Met die gewese Bulls en Sharks vaskopstut, Wiehahn Herbst, om hul skrum te anker en die opwindende veteraan veelsydige agterspeler, Hansie Graaff, op die bank, het die manne van die Moot oorgenoeg ervaring gehad om die Wolverines te uitoorlê.
Naka Bulle het agt drieë gedruk in die kragmeting, maar die Wolverines het self gesorg vir ’n bonuspunt deur vyf keer te gaan druk in dié aksiebelaaide wedstryd.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




