Local sportSport

Skouspel tussen Naka Bulle en Tuks lewer meer as 100 punte op

Met nog een week se wedstryde wat oorbly in die eerste rondte van die Carltonbeker klubrugby toernooi, word dit duidelik dat ’n paar van die voorseisoen gunstelinge baie hard sal moet werk in die tweede rondte as hulle die halfeindstryde wil haal.

Saterdag se Carltonbeker wedstryd tussen Naka Bulle en Tuks, wat sou bepaal wie na dese die tweede plek op die toernooi se punteleer sou inneem, het gewys waarom so baie rugbyliefhebbers in Pretoria deesdae op Saterdae eerder langs die klubrugby velde bymekaarkom as om Loftus Versfeld toe te ry.

Sestien drieë en 104 punte se opwinding gee die antwoord, terwyl Naka Bulle se nuwe kroeg en Thinus Joubert, wat vir jare rugbyondersteueners by TradeMarx langs Loftus gevoed het, se nuwe restaurant in die klubhuis ook bydra tot ’n klubrugby ervaring soos min. 

Die ander drie Carltonbeker wedstryde het dalk nie soveel punte opgelewer nie, maar dieselfe feestelike atmosfeer het by elke wedstryd geheers, terwyl opwinding, spanning en goeie rugby saam met die kos en drinkgoed geniet kan word.

Tuks puntemakers teen Naka Bulle was, van links Kyle Cyster, Jandré Burger, Chad-Lee Valentine, Tharquinn Manuel en Allister Williams.
Foto: Johanna de Vos

– Tuks se aanslag op die Carltonbeker kom deesdae ook weer met tradisionele studenterugby, waartydens die bal na willekeur rondgegooi word.

Sedert Tuks se opwindende heelagter, Kyle Cyster, met ’n dartellopie van 40 meter die eerste drie van die wedstryd gedruk het, was die fees van hardlooprugby geopen en die opwinding kon begin.

Naka Bulle is kort daarna met hul voorspelers oor die doellyn vir ’n krag-drie, maar hul agterspelers het nie ’n tree vir die voortvarende studente teruggestaan nie en was uiteindelik vir ses van hul nege drieë verantwoordelik.

Die tuisspan se oorhand voorlangs, van die vaste fasette tot by hul dryfspel, het uiteindelik die fondament vir hul oorwinning gelê.

James Verity-Amm, Bloubul gekontrakteerde speler, was Saterdag een van Naka Bulle se sterre teen Tuks met sy avontuurlustige benadering tot die spel.
Foto: Johanna de Vos

Tuks is egter duidelik ’n span op ’n missie. Dit bewys hul terugvegpoging, nadat hulle vroeg in die tweede helfte op ’n stadium reeds 54-14 agter was. Hulle kon daarin slaag om in die laaste halfuur van die wedstryd vyf drieë te druk en hul deel by te dra om van die wedstryd ’n skouspel te maak.  Naka Bulle het egter steeds met 61-43 gewen.

– Intussen kan die Rhinos van Northam maar solank die Brasso en politoerlappies aanskaf, want al kry hulle eerskomende naweek teen Harlequins nie ’n enkele ligapunt nie, sal Naka Bulle (wat Saterdag teen die Grizzlies van Tuine speel) eers die gaping van 75 punte in die twee spanne se punteverskil moet uitwis voor hulle bo die Bosvelders kan eindig na afloop van die eerste rondte.

Northam het Saterdag op hul tuisveld weer alle aspekte oorheers om hul oorwinning van 76-14 teen die moedige manne van Pretoria rugbyklub moontlik te maak.

– Die Wolverines van Skeerpoort het hul vierde plek op die punteleer verstewig, deur nóg een van die gevestigde klubs ore aan te sit.

Hul oorwinning van 29-25 teen Harlequins was selfs indrukwekkender as wat die telling verklap, aangesien hulle vier drieë vir ’n bonuspunt gedruk het, terwyl die Bokkiestruie ’n enkele keer agter die doellyn kon kuier. Danksy Hendrik Mulder se skopvoet en ses strafdoele het Quins bygebly op die telbord.

Daar is nou ’n gaping van 9 ligapunte tussen die Wolverines (vierde) en Harlequins (vyfde) op die punteleer en, net soos die verdedigende kampioen, Centurion, sal Quins alles in die stryd moet werp in die tweede rondte van die reeks as hulle nog die halfeindstryd wil haal.

Aksie uit Saterdag se Carltonbeker stryd tussen Harlequins en die nuwelinge in die reeks, die Wolverines, waartydens laasgenoemde wéér ’n verrassing opgelewer het deur die wedstryd te wen.
Foto: Facebook

– Vir die beleërde span van Centurion sou Saterdag se bonuspunt oorwinning van 35-24 oor die Grizzlies ’n reuse verligting gewees het, na hul rampspoedige begin van vyf agtereenvolgende nederlae in vanjaar se toenrooi.

Die manne van die Weste is nie ’n maklike neut om te kraak op hul tuisveld nie en nadat hulle sommer vroeg reeds deur is vir hul eerste van drie drieë, moes Centurion konsolideer en die stang behoorlik vasbyt.

Centurion het egter kalm gebly en met konstruktiewe rugby, wat sentreer om hul groot, sterk pak voorspelers, stelselmatig die oorhand gekry.

Hoewel die besoekers teen rustyd met 29-10 voorgeloop het, het die Grizzlies weer gewys waartoe hulle in staat is deur die telbord in die tweede helfte aan die rol te hou met nog twee drieë, terwyl Centurion op die skopvoet van Ian Trollip staatgemaak het om hul voorsprong met twee strafdoele te rek.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button