Wie kan Northam se Rhinos stuit in Carltonbeker toernooi?
Met provinsiale rugby wat vir ’n maand of wat ná die Curriebeker eindstryd ’n ongewone (vir Suid-Afrika) afseisoen beleef weens Suid-Afrikaanse rugby se nuwe Europese konnotasie, kan plaaslike rugbyliefhebbers steeds uitsien na ’n paar maande van opwindende klubrugby.
Is daar ’n span wat dr. Phil Pretorius se Rhinos van Northam sal kan stuit in die Blou Bulle se World Sports Betting Carltonbeker liga? Of sal die Bosvelders van Thabazimbi se geweste vanjaar geskiedenis maak deur die eerste span ooit buite die grense van Pretoria te word om hierdie gesogte trofee te wen?
Terwyl die Bulls en ander provinsiale spanne hul wonde lek ná ’n middelmatige 2022/2023 seisoen, skuif die fokus vir plaaslike rugbyliefhebbers nou na die World Sports Betting Carltonbeker liga, waar daar tans kookwater rugby gespeel word.
Dis nie bekend of spelers van die Bulls steeds deel van die liga gaan wees nie, maar hierdie liga het so sterk en opwindend geword dat rugbyliefhebbers elke naweek steeds kan uitsien na top rugby op klub velde.
Northam se Rhinos beleef tot dusver ’n perfekte seisoen. Hulle het twee weke gelede die Lukas Strachan skild verower as die span wat voorloop op die punteleer ná die afhandeling van die eerste rondte. Die Bosvelders het ses drieë gedruk om Harlequins met 24-14 te klop en dus die eerste rondte te wen met ’n perfekte puntetal van 35. Dit beteken dat hulle nie net elk van hul eerste sewe wedstryde gewen het nie, maar boonop ’n bonuspunt verdien het deur vier drieë of meer in elke wedstryd te druk.
Kort op hul hakke was Naka Bulle met 30 punte (ses bonuspunte); gevolg deur Tuks (27); die nuweling, die Wolverines (22); Centurion (16); Harlequins (13); Tuine se Grizzlies (9) en Pretoria Rugbyklub (3).
Die Rhinos het die afgelope naweek weer vir Tuks verniel (67-34), terwyl Centurion bietjie nader aan die Wolverines gekruip het met hul bonuspunt oorwinning oor Harlequins (46-38).
Pretoria se stryd teen Naka Bulle is tot later uitgestel weens die langnaweek, terwyl die Grizzlies en die Wolverines ’n loslootjie gehad het.
Tensy een van die top drie spanne skielik uitsak, lyk dit dus of die Wolverines (die nuwelinge), Centurion (die verdedigende kampioen) en Harlequins tydens die tweede rondte in ’n verwoede stryd betrokke gaan wees om die laaste beskikbare plek vir die halfeindstryde op te eis.
Hierdie puntestand spreek boekdele oor hoe die klubrugby opset besig is om te verander. Dis lankal bekend dat reuse klubs van die verlede, wat aan sekere instansies (staatsdepartemente ens.) gekoppel was, verwaarloos en verniel is. Dink maar aan klubs soos Weermag, Polisie en Korrektiewe Dienste, wat weens politiek, prioriteitsveranderings en soms bloot laksheid en wanbegrip van wat goeie sportspanne vir die beeld van ’n instansie of departement kan beteken, geen faktor meer is nie.
Ook Iscor, TUT en ander is weens gebrekkige bestuur of prioriteitsveranderings vernietig of verswak.
Die toekoms van klubrugby is egter nou in die hande van gemeenskapsklubs en in ’n sekere mate is dit ’n opwindende verwikkeling. Terwyl Harlequins en Pretoria steeds kompeteer, het klubs soos Centurion (Suide), Naka Bulle (Moot) en Tuine Grizzlies (Wes) reeds weens visionêre leierskap en daadwerklike optrede die gaping gevul. Dié klubs is deesdae nie net rugbysentrums nie, maar ook sosiale brandpunte vir hul onderskeie gemeenskappe.
Die Northam Platinum mynmaatskappy bewys die afgelope paar jaar met sy betrokkenheid by die Rhinos en die Wolverines ook watter reuse positiewe invloed groot maatskappye by die toekoms van klubrugby kan hê.
Daar is natuurlik nog enorme potensiaal vir die Silver Valke (Silverton en noord-Ooste), Eersterus, Noordelikes (Noord) en die Knights (Ooste) om met die hulp van die gemeenskap en sakelui soortgelyke gemeenskapsklubs as bogenoemde te word en selfs die Carltonklubs uit te daag.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
