Groot tellings, baie drieë in Carltonbeker toernooi
Tewyl Harlequins se nederlaag teen Naka Bulle waarskynlik die einde van hul kanse in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi beteken, het spanne soos Tuks en die Wolverines se oorwinnings van die afgelope naweek hulle stewiger op die pad na die halfeindstryde geplaas.
Drieë by dosyne en groot tellings raak ’n algemene kenmerk van die World Sports Betting Carltonbeker toernooi, terwyl die tweede rondte van vanjaar se kompetisie momentum begin kry.
Die afgelope naweek was daar in vier wedstryde weer drie vyftigtalle, terwyl die wentelling in die vierde wedstryd slegs vyf punte kort van nóg ’n vyftigtal geëindig het.
Kenners van die spel sal onmiddelik opmerk dat hierdie soort tellings, asook die feit dat sewe van die agt spanne wat die naweek in aksie was bonuspunte vir ten minste vier drieë verdien het, dui op gebrekkige verdedigingspatrone. Dit mag so wees, maar as teenargument sal toeskouers wat die wedstryde bygewoon het ook daarop wys dat byna ál die spanne in die reeks probeer om aanskoulike hardlooprugby te speel.
– Ondersteuners van Harlequins sal beslis saamstem dat hul span se ondergemiddelde vertonings op die verdediging hulle waarskynlik reeds ’n plek in die halfeindrondte gekos het.
Die Blokkiestruie het Saterdag op hul tuisveld hul sewende nederlaag van die seisoen gely toe Naka Bulle hulle met 73-26 geklop het. Daarmee het Harlequins hulself waarskynlik buite bereik van ’n plek in die halfeindrondte geplaas.
Quins speel soms skitternede rugby en daar is nie veel fout te vind met die struktuur en balans van hul span nie. Maar dié manne van Groenkloof het dieselfde kwaal as die Bulls as dit kom by momentum wat verlore gaan weens onnodige foute, waarmee hulle balbesit afstaan. Daarna raak dit skynbaar net te moeilik om al die gate toe te stop, veral as hulle te doen kry met ’n meedoënlose span soos Naka Bulle.
Die Manne van die Moot was vroeër hierdie seisoen weens verskeie redes soms wisselvallig. Saterdag teen Quins was hulle egter weer die goed-geoliede masjien van die afgelope twee seisoene, wat byna elke moontlike geleentheid wat hom voorgedoen het, in punte omskep het.
Naka Bulle se groot uitblinker was hul jong agtsteman, JJ Scheepers. Dié sterk en woelige speler is die fonds van die seisoen en dis nie moeilik om te sien waarom meer as een provinsiale span glo reeds in hom belangstel nie. Hy het twee van sy span se elf drieë gedruk.

Foto: Johanna de Vos
– In die Bosveld het die ander uitstaande span in vanjaar se Carltonbeker reeks, die Northam Rhinos, harder gewerk om die verdedigende kampioen, Centurion, onder te kry as wat die eindtelling van 52-36 suggureer.
Met ’n kwartier se speeltyd oor, het die telling nog gestaan op 38-36 in die tuisspan se guns. Twee drieë binne ’n paar minute – ’n kragdrie vanaf ’n lynstaandryfbeweging deur die voorspelers en ’n lang-afstand drie ná ’n puik breekslag deur heelagter, Ashwill Adams – het Centurion se aanslag beëindig.
Die Manne uit die Suide het nooit ophou veg nie, maar ’n omstrede rooikaart in die doodsnikke, waardeur ’n oorywerige lynregter homself spreekwoordelik oor die perd getel het, het ook nie veel gehelp nie.
– Tuks het op hul alternatiewe tuisveld by die universiteit se onderwyskampus in Groenkloof teen Pretoria Rugbyklub hul posisie op die punteleer effens verstewig deur nege keer agter die doellyn te gaan kuier vir ’n oorwinning van 63-27.
Hoewel Tuks se pak voorspelers in die eerste rondte teen die groter kanonne gesukkel het, is hulle goed genoeg om die spanne laer op die punteleer behoorlik te boelie.
Vanaf die basis van ’n oorheersende pak voorspelers, baljaar Tuks se agtelyn soos van ouds en hul ryg die drieë in, om weekliks te waarsku dat hulle beslis nie buite rekening gelaat moet word in vanjaar se toernooi nie.
Pretoria het oudergewoonte goed begin en enduit hard probeer, maar hulle het eenvoudig tans net nie die diepte om ’n hoofrol in hierdie toernooi te speel nie.

Foto: Facebook
– Op Skeerpoort het die Wolverines ook húlle vierde plek op die punteleer gestand gedoen met ’n puik oorwinning oor die Grizzlies van Tuine. Die eindtelling was 45-28 met die tuisspan wat sewe keer gaan druk het, terwyl die Grizzlies oudergewoonte ’n bonuspunt verdien het deur die vier drieë wat hulle gedruk het.
Die besoekers uit Pretoria se Weste het teen rustyd met 21-19 voorgeloop, nadat hulle drie van hul vier drieë reeds in die eerste helfte gedruk het.
Ongelukkig vir die Grizzlies het die stadige gif van die Wolverines se oorheersing voorlangs resultate begin toon in die tweede skof en die punte het al hoe meer geword na mate die tuisspan se momentum hul telkens by die doellyn uitgekry het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
