Naka Bulls klop Northam, maar Bosvelders lag laaste
Ten spyte van hul nederlaag die afgelope naweek, is die Rhinos van Northam steeds op koers na hul groot doelwit om vanjaar in ‘n World Sports Betting Carltonbeker eindstryd op hul tuisveld in die Bosveld te speel.
“Dit was soos ’n Curriebeker wedstryd…”
Met hierdie woorde het een van die toeskouers na afloop van Saterdag se klipharde en opwindende stryd in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi tussen Naka Bulle en die Notham Rhinos ’n baie akurate beskrywing gegee wan die aksie wat pas op eersgenoemde se tuisveld in die Moot plaasgevind het.
Dit kon ook nie anders nie, aangesien beide spanne gewemel het van spelers wat reeds provinsiale rugby – en selfs hoër – gespeel het. Uiteindelik het die wedstryd voldoen aan die vereistes. Dit was hard, genadeloos en spannend tot die eindfluitjie geblaas is.
– Daar was baie op die spel in hierdie wedstryd, wat uiteindelik ná 80 moordende minute met 33-29 deur Naka Bulle gewen is.
Northam se manne sal egter nie kwalik geneem kan word as hulle voel dat hulle laaste gelag het, ten spyte van die nederlaag nie.
Die tuisspan se missie was duidelik – hulle moes wen én hulle moes terselfdertyd met die oog op ’n moontlike tuis-eindstryd sorg dat die Bosvelders nie ’n enkele ligapunt uit die wedstryd kry nie.
Dit was ’n wedstryd van twee helftes, met die Rhinos wat baie goed begin het en teen rustyd welverdiend met 17-12 voorgeloop het. Hulle het veral die oë laat rek oor die wyse waarop hulle Naka Bulle in die vaste skrums opgedreun het in daardie eerste skof.
Gelukkig vir die tuisspan het hulle vroeg in die tweede helfte ’n snelrat gevind en voorlangs het dit ook beter gegaan, veral toe die onderskatte vaskopstut, Werner van der Westhuizen sy verskyning as plaasvervanger gemaak het.
Naka Bulle het beheer oorgeneem en toe linkervleuel, Pule Molokome in die 33ste minuut oorduik vir sy derde drie (en sy span se vyfde) wou dit lyk of die Manne van die Moot se missie suksesvol voltooi sou word.
Toe die skeidsregter met minder as ’n minuut speeltyd oor – en die telling op 33-22 in die tuisspan se guns – ’n strafdoel aan die Naka Bulle in hul eie kwartgebied toeken, het die tuisskare reeds begin feesvier. Hulle moes net uitskop en as daar ’n lynstaan sou plaasvind, moes hulle die bal herwin, die sekondes met ’n paar dryfbewegings aftel en dan uitskop, sodat die eindfluitjie kan blaas.
Ongelukkig het een van Naka Bulle se sterre van die dag, Hansie Graaff, tot op daardie stadium gewag om sy enigste fout in die wedstryd te maak – hy het nie uitgeskop nie. Die besoekers het begin met ’n teenaanval en ’n paar meter later het hul Junior Springbok skrumskakel, Percy Williams (wat 1.6m kort is) op slinkske wyse ’n “hoogvat” strafskop afgedwing. Daar is uitgeskop en vanaf die lynstaan het die finale aanval begin, wat ’n minuut later uitgeloop het op ’n drie vir plaasvervanger Anthony Brand.
Northam kon steeds nie wen nie, maar dié drie van Brand was hul vierde van die dag (bonuspunt) en het hulle boonop ook binne sewe punte van Naka Bulle se telling laat eindig vir ’n tweede bonuspunt. Hierdie twee ligapunte is vir die Bosvelders goud werd, want dit beteken dat hulle net hul laaste vier ligabepalings moet wen om hul voorste plek op die punteleer te behou.
– In Centurion het Riaan Brand se manne gewys dat hulle nog lank nie van plan is om te gaan lê en sommer so afstand te doen van hul titel as Carltonbeker kampioen nie.
Die tuisspan het ’n groot aanslag van die nuweling in die toernooi, Die Wolverines, afgeweer om met 41-38 te wen.
Net soos in die eerste rondte, was hierdie stryd egter kop-aan-kop en hoewel dit in die tweede en derde kwarte van die wedstryd rondom rustyd gelyk het of die tuisspan beheer oorneem, het die Wolverines teruggekom en hard geveg. Hulle is ’n Bittereinder-span wat nooit gaan lê nie.
Die besoekers se voorspelers kan beslis kompeteer met enige span in die reeks en as hulle bietjie meer fokus en gedissiplineerd speel in die vaste fasette, kan hulle nog ’n paar sterk spanne klop. Hulle sal beslis in ’n stryd gewikkel wees met Centruiron vir ’n plek in die halfeindrondte.
– In die derde wedstryd van die week het die twee onderste spanne op die punteleer, die Grizzlies en Pretoria mekaar aangevat. Tuine se Grizzlies was met 36-20 baas, terwyl hulle ook ’n bonuspunt vir hul vyf drieë verdien het.
Die Grizzlies speel met tye baie positiewe rugby en dit sal niemand verbaas as hulle, soos in die eerste rondte, dalk nog ’n verrassing of twee oplewer in die volgende twee maande nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




