Knights rugbyklub groei, Jeugklub begin oefen
Die Knights, die Ooste van Pretoria se nuwe rugbyklub, gaan van krag tot krag en terwyl die senior klub presteer in die Blou Bulle se Presidentsliga, sien die Jeugklub ook uit na ’n seisoen vol aksie.
Dit is algemeen bekend dat ’n groot leemte bestaan ten opsigte van klubrugby in die ooste van Pretoria.
Terwyl Pretoria se oostelike voorstede die afgelope twee dekades dramaties uitgebrei het, het daar tot onlangs geen rugbyklubs in hierdie gebied bestaan nie.
’n Groep rugby-afrigters en -administrateurs wat almal jare se ervaring op klubvlak het, het besluit om hierdie leemte aan te spreek.
Daar is verlede seisoen aanvanklik begin met planne vir ’n jeugklub, maar regulasies van die Blou Bulle het bepaal dat ’n senior rugbyklub moet bestaan waaronder die jeugklub kan funksioneer. Só is die Knights Sportklub uiteindelik reeds in 2022 gestig.
Dié klub huisves tans ’n senior rugbyklub, wat met twee spanne kompeteer in die Blou Bulle se Presidentsliga en ’n jeugklub vir alle ouderdomme van Bulletjierugby (o.6) tot by o.19 spanne.
Planne is ook reeds ver gevorder om die Knights se netbalklub te vestig. Die eerste netbal kliniek vir meisies van o.6 tot o.19 is reeds verlede maand deur die klub aangebied.

Foto: Verskaf
Hoewel die Knights se senior rugbyspanne vanjaar vir die eerste keer in die Presidentsliga kompeteer, vaar hulle besonder goed. Beide die eerste- en tweedespanne is nog in die wedloop om die liga se uitspeelwedstryde te haal. Die eerstespan doen veral besonder goed en is tans derde op die punteleer van die liga.
Die senior klub se oefeninge en wedstryde vind plaas op die sportterrein van Hoërskool Die Wilgers.
Omdat die Knighs nog ’n jong klub is, word daar veral intensief gekonsentreer om die strukture van onder af te bou vir die toekoms. Daarom is die bestuur ernstig om die jeugklub so sterk as moontlik te maak en die kultuur van die klub daar reeds te vestig.
Nog ’n aspek wat vir die bestuur ’n saak van erns is, is dat die klub op sterk Christelike waardes gebou word en dat die leuse “Vir die Gemeenskap, Deur die Gemeenskap” ’n tema is waarop sterk gesteun moet word.
Die Knights Jeugrugby klub het reeds die afgelope naweek met oefeninge begin. Alle seuns tussen die ouderdom van o.6 tot o.19 is welkom om weer eerskomende Saterdag, 15 Julie, vanaf 09:00 tot 11:00 aan die tweede ope oefening van die Jeugklub te kom deelneem. Oefening vir laerskool ouderdomsgroepe (o.6 tot o.13) vind plaas by Curro Hazeldean Primary School en vir hoërskool ouderdomsgroepe (o.14 tot o.19) by Curro Hazeldean High School.
Vir enige navrae oor die Knights se senior rugbyklub, skakel Tommie by 074-691-6057. Navrae oor die Jeugklub kan gedoen word by Sarel Nel by 072-523-5935.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
