Groot stryd om halfeind-plekke in Carltonbeker toernooi
’n Groot stryd kan in die volgende vyf weke verwag word in die World Sports Betting Carltonbeker klubliga, wanneer vier spanne sake gaan uitspook om die derde en vierde plek op die punteleer en ’n gevolglike plek in die kompetisie se halfeindstryde.
Nadat al die spanne in die Blou Bulle se World Sports Betting Carltonbeker klubliga verlede week ’n loslootjie geniet het, was daar weer volop aksie én ’n verrassing toe die program die afgelope naweeek hervat is.
Daar is sowat vyf weke se aksie oor en die meeste spanne moet nog vier ligaverpligtinge nakom. Na die jongste uitslae is daar heelwat verwikkelinge op die punteleer en dit wil voorkom of vier spanne sake sal moet uitspook om in die derde en vierde plekke op die punteleer te eindig en sodoende te kwalifiseer vir die halfeindstryde, wat op 26 Augustus gaan plaasind.
– Kom ons begin by die naweek se verrassing. Net toe baie klubrugby entoesiaste wou glo dat die oorwinning wat die Grizzlies van Tuine in die eerste rondte teen Harlequins behaal het ’n gelukskoot was, verras die manne van die Weste almal en doen dit wéér.
In ’n opwindnede wedstryd, wat elf drieë opgelewer het, was die Grizzlies uiteindelik op hul tuisveld in Tuine met 45-41 baas.
Daarmee het die Grizzlies nie net verby Harlequins geskuif op die punteleer nie, maar ook hul vlam van hoop om vir die halfeindrondte te kwalifiseer, lewend gehou. Mick Helena se manne sal egter nog baie verrassings moet oplewer as hulle dít wil bereik. Hulle moet nog teen die Northam Rhinos, Centurion, Naka Bulle en Tuks speel in hul laaste vier ligabepalings.
Wat die Blokkiestruie van Groenkloof betref, sal daar waarskynlik ernstig besin moet word oor hoe hulle – wat as een van die gunstelinge die seisoen afgeskop het – in hierdie situasie beland het waar hulle tot dusver agt uit tien wedstryde verloor het.
– Die ander verwikkeling op die punteleer is die Wolverines wat by Tuks verbygeskuif het tot in die derde plek, nadat hulle Pretoria rugbyklub die afgelope naweek met 56-14 vermorsel het.
Schalk van Heerden se troepe het op hul tuisveld in Skeerpoort agt drieë ingeryg teen Pretoria, wat self darem twee keer agter die doellyn kon gaan kuier.
Of die nuwelinge in die toernooi hierdie posisie enduit sal kan behou, is te betwyfel. Eerstens het Tuks (wat nou vierde op die punteleer lê) ’n wedstryd minder as die res gespeel, aangesien hulle die afgelope naweek by die USSA toernooi betrokke was.
Dan het die Wolverines ’n baie moeilike pad vorentoe met ontmoetings teen Naka Bulle, die Northam Rhinos, Harlequins en Tuks wat op hulle wag.
– Die verdedigende kampioen, Centurion, lê tans nog vyfde op die punteleer. Hulle het hulself egter geen guns gedoen toe hulle die afgelope naweek ná ’n skitterende eerste helfte en ’n voorsprong van 26-19 teen rustyd teen Naka Bulle, fokus verloor het in die tweede helfte nie.
Die manne van die Moot het vyf keer in daardie tweede skof gaan druk om uiteindleik met 48-29 te wen.
Soos genoem was dit ’n wedstryd van twee uiteenlopende helftes, waarin Centurion in die eerste skof die pap voorlangs dik aangemaak het.
Daar het ’n titansiese stryd in die vaste skrums geheers, wat ook wipplank gery het. Aanvanklik het Centurion die oorhand gehad, maar die besoekers het goed teruggekom in die tweede helfte en vir hulself aanvalsgeleenthede geskep met ’n goeie regter skouer in die skrums.
Albei spanne het ook goed gedryf. Dit was egter agterlangs waar Naka Bulle beter gevaar het, met skrumskakel Jack Heart en losskakel Hansie Graaff wat sake beheer het.
Naka Bulle se senters het ook hul tweestryd met Centurion se puik senters gewen, terwyl regtervleuel Frans Botha sy beste wedstryd tot dusver vanjaar gespeel het en met twee puik drieë beloon is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



