Local sportSport

Carltonbeker: Drie honde baklei oor twee bene

Die World Sports Betting Carltonbeker toernooi stuur af op ’n spannende einde in die laaste maand van ligabepalings, met drie spanne wat hard gaan veg vir die derde en vierde plekke op die punteleer, wat ook kwalifisering vir die halfeindrondte sal beteken.

Die Carltonbeker toernooi van 2023 is nou in die pylvak en na die afgelope naweek se uitslae is daar drie realistiese kandidate oor wat in die volgende vyf weke gaan veg vir die derde en vierde plekke op die punteleer, wat ook die laaste twee kwalifiserende plekke vir die halfeindstryde sal wees.

Op hierdie stadium is dit duidelik dat die Northam Rhinos en Naka Bulle as die top twee spanne gaan eindig en dat hulle waarskynlik albei reeds tuis halfeindstryde bespreek het. Al wat nog vir hulle kan verander, is as die Rhinos in een van hul laaste drie wedstryde teen die Wolverines, Pretoria Rugbyklub of Harlequins ’n glips het en iewers dalk verloor of nie volpunte op die punteleer kry nie. Dit sal aan Naka Bulle – wat nog teen Pretoria, Tuks en die Grizzlies van Tuine moet speel – die kans gee om dalk die eerste plek in te neem.

Wat die derde en vierde plekke betref, lê daar egter ’n taai stryd tussen drie kandidate voor.

Terwyl Tuks (tans op 35 ligapunte) nog vier bepalings (teen Harlequins, Naka Bulle, Wolverines en Grizzlies) het om sy plek te verseker, het die Wolverines (tans op 34 ligapunte) drie taai kragmetings (Rhinos, Harlequins en Tuks) oor om te probeer kwalifiseer.

Centurion, wat tans in die vyfde plek met 33 ligapunte (een agter die Wolverines) lê, het slegs twee ligabepaligs (Grizzlies en Pretoria) oor om hul plek te probeer bespreek.

– Net ’n dwaas of iemand wat geen kennis van klubrugby in Pretoria het nie, sal dit egter waag om die verdedigende kampioen op hierdie stadium af te skryf. Hulle het immers verlede seisoen ook eers laat hul top vorm bereik, maar toe vanuit die derde plek op die punteleer kampioen geword.

Soos Centurion Saterdag tydens hul oorwining van 44-38 oor Tuks (op laasgenoemde se tuisveld) gespeel het, kan hulle nie buite rekening gelaat word nie. Hulle behoort volpunte uit hul laaste twee bepalings te kry, wat al die druk dan op die Wolverines gaan plaas.

Centurion se monter pak voorspelers het Saterdag gemors met Tuks se melkbaarde. Hierdie oorheersing voorlangs het die grondslag gelê vir hul oorwinning.

Die studente het met ’n baie jong span gespeel. Die gemiddelde ouderdom van hul pak voorspelers was 21,5 jaar en die gemiddelde ouderdom van hul 23-tal was 21,8 jaar.

Hierteenoor het Centurion beskik oor ’n hele paar “ou manne” wat al ’n paar keer om die blok is in die strawwe Carltonbeker liga.

Centurion het veral in die skrums amok gemaak en vandaar ’n goeie fondasie gehad om op te bou.

Nadat die eerste helfte gelykop (24-elk) geëindig het, was dit Centurion wat in die tweede helfte hul voorsprong op ’n stadium tot 44-24 gebou het. Tipies van ’n span vol studente het Tuks egter met die min goeie balbesit elke kans aangegryp om aan te val.

Twee vinnige drieë in die laaste tien minute deur die studente het die wedstryd amper op sy kop gekeer, maar die manne uit die suide het vasgebyt vir ’n welverdiende oorwinning.

Naka Bulle het hul punteverskil op die punteleer laat krimp met ’n reuse oorwining van 57-12  oor die Wolverines.

Die manne van die Moot het nege keer die doellyn oorgesteek, om die myners van Skeerpoort te oorrompel.

Harlequins het uiteindelik ook (te laat) wakkergeskrik en hul bure van oorkant Totiustraat in Groenkloof met 71-10 verniel.

Die Blokkiestruie het 11 keer die doellyn oorgesteek, terwyl Pretoria net een drie kon druk. Hoewel Harlequins sal aanvaar dat hulle nie meer die halfeindrondte kan haal nie, kan hulle egter nog ’n deurslaggewende rol speel in die toernooi. Hulle het ongetwyfeld die vermoë om beide vir Tuks en die Wolverines te klop, wat beslis ’n invloed op die finale stand van sake kan hê.

– In die Bosveld het die Northam Rhinos op hul tuisveld ses keer gedruk om die Grizzlies van Tuine met 36-20 af te stof.

Die manne van Pretoria se Weste het self twee keer gaan druk en ook gewys dat hulle ’n faktor is in hierdie liga. Hoewel hulle weer teruggesak het tot die sewende plek op die punteleer, het die Grizzlies beter as sommige van die top spanne gevaar teen die Rhinos op hul tuisveld in Limpopo.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button