Spanning bou steeds op in World Sports betting Carltonbeker toernooi
Die spanning in die World Sports Betting Carltonbeker toernooi bou op en die groot vraag oor wie vanjaar by die Northam Rhinos en Naka Bulle rugbyklubs gaan aansluit vir die kompetisie se halfeindeindstryde, sal waarskynlik eers oor twee weke duidelik word.
Met die meeste spanne in die 2023 World Sports betting Carltonbeker toernooi wat slegs twee ligabepalings oor het om af te handel, begin die spanning nou oplaai vir die voorste vyf klubs.
Wat die voorlopers, die Northam Rhinos en Naka Bulle betref, kan nie een van hulle ’n glips in hul laaste twee ligawedstryde bekostig nie. Hoewel hulle albei verseker is van die boonste twee plekke op die punteleer, is die eerste plek nog nie finaal bespreek nie. Daarom kan die Rhinos nie bekostig om in een van hul laaste twee wedstryde teen die Wolverines of Harlequins vas te val nie.
Naka Bulle sal op hul beurt weer in hul laaste twee bepalings teen Pretoria Rugbyklub en die Grizzlies van Tuine volpunte moet verdien op die punteleer én hul punteverskil moet probeer vergroot, in die hoop dat die Rhinos moelikheid optel.
Wat die derde en vierde plekke – en die laaste twee plekke in die halfeindronte – betref, is die spanning nou selfs hoër. Die verdedigende kampioen, Centurion, se lot is steeds nie in hul eie hande nie, hoewel hulle ook volpunte sal moet kry in hul laaste twee ligabeplaings teen die Grizzlies en Pretoria.
Centurion se grootste hoop is gevestig op die kans dat die Wolverines beide hul laaste twee wedstyde teen Harlequins en Tuks sal verloor, of dat hulle ten minste slegs ’n maksimum van vier punte uit hierdie twee bepalings sal versamel.
Daar kan byna aanvaar word dat Tuks, wat nog drie liga-bepalings oor het, wel vir die halfeindstryd gaan kwalifiseer. Die studente moet net twee van hul drie laaste wedstryde teen Harlequins, die Wolverines of die Grizzlies wen om seker te maak van hul halfeind plek.
– Intussen het die Wolverines gewys dat hulle nie sonder ’n geveg sal gaan lê nie, toe hulle teruggesluif het na die derde plek op die punteleer met hul goeie bonuspunt-oorwinning van 36-22 oor Harlequins die afgelope naweek.
– Naka Bulle het Tuks in ’n baie taai stryd met 36-31 geklop. Tuks het egter twee baie waardevolle bonuspunte verdien, wat hul eie pad makliker maak wat die finale puntestand betref.
– Die Northam Rhinos het Pretoria Rugbyklub se sterte behoorlik geknoop met hul oorwinning van 88-12. Daarmee het die Bosvelders ook weer hul voorsprong wat punteverskil op die punteleer betref, vergroot.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






