Tuks se jonges as o.20 klubkampioen in Pretoria gekroon
TuksRugby se o.20’s is die Blou Bulle se nuwe klubkampioen in hierdie kategorie, nadat hulle die liga-eindstryd teen Naka Bulle se Sables gewen het.
Die pyn van TuksRugby se sukkel-seisoen tot dusver vanjaar is verlede Vrydagaand effens verlig, toe dié klub se o.20 span as die Bloubul kampioen in hul kategorie gekroon is.
Die jong Tukkies het Naka Bulle se jongmanne, die Sables, in ’n puik eindstryd met 36-22 geklop.
Hierdie wedstryd was ’n ware eindstryd en die kwaliteit van rugby wat die twee o.20 klubspanne opgedis het, wat besonder hoog. Dít voorspel goeie dinge vir die toekoms van klubrugby onder beheer van die Blou Bulle.
Dit was tipiese eindstryd rugby en ’n titaniese armdrukstryd het tot kort voor die einde van die wedstryd geheers. Albei spanne het positiewe rugby gespeel, wat die wedstryd uit ’n toeskouersoogpunt opgekikker het.
Teen rustyd (7-10) was die Naka Bulle Sabels nog voor op die telbord, nadat hulle twee keer gaan druk het.

Foto: Frans Lombard
Die jong studente het in die tweede helfte met nuwe energie en vuur uit hul kleedkamer gekom. Daarna is die tempo van die wedstryd weer opgejaag en Tuks het in die eerste tien minute van die tweede skof 15 onbeantwoorde punte aangeteken.
Hoewel die Naka Bulle Sables teruggeveg het en die punteverskil weer tot slegs sewe punte laat krimp het, was die studente nog nie klaar nie. Hulle het in die laaste tien minute weer twee keer gedruk, waaronder die drie wat die oorwinning versëel het in die laaste sekondes van die wedstryd.
Sedert die huidige president van die Blou Bulle, Willem Strauss, in 2018 die leisels oorgeneem het, het die spel op junior én senior klubvlak gegroei. Die “nuwe” o.20 klubliga het daarna van krag tot krag gegaan.
Vanjaar is daar ’n ekstra geelwortel vir die boonste spanne in die Blou Bulle se o.20 klubliga, aangesien die top drie spanne kwalifiseer vir die Uxi Sport u.20 ‘Cross-Border’ kompetisie, wat eersdaags afskop. Tuks, die Naka Bulle Sabels en Centurion se junior spanne sal die Blou Bulle in hierdie liga teen o.20 spanne van die Leeus, Pumas, Griekwas, Valke, Luiperds en Westelike Provinsie verteenwoordig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
