Local sportSport

Klubrugby legendes kuier saam by Katmuis se mylpaal verjaardag

Oud lede van die Pretoria Polisie Rugbyklub, asook ander klub- en provinsiale rugby tydgenote van een van die groot geeste van die beroemde Bobbies het onlangs saamgekom om sy mylpaal verjaarsdag, sowel as dié van verskeie ander van hul tydgenote, te vier.

Die (gewese) Polisie Rugbyklub van Pretoria het waarskynlik naas Tuks die grootste bydrae gelewer tot die opbou van Noord-Transvaal (later die Blou Bulle) as Suid-Afrika se suksesvolste rugby-unie in die modern era.

Hierdie klub het nie net ’n reuse persentasie van die Bulle se ster-spelers en Springbokke opgelewer nie, maar ook van die heel beste afrigters en administrateurs.

Hoewel die moedswilligheid en swak oordeel van politiek-gedrewe magshebbers die trotse Pretoria Polisie rugbyklub basies vernietig het, bly daar vir baie van die oud Bobbies nog die nostalgie oor en een manier om die gloriedae in herinnering te roep, is om geleenthede te skep waarop oud Bobbies (en hul tydgenote van ander rugbyklubs) saam kan kuier.

Só ’n geleentheid is onlangs geskep rondom die 80ste verjaardag van een van die heel grootste geeste van die Pretoria Polisie rugbyklub. Toe die klubrugby legende, Katmuis Conradie, se familie en vriende reëlings begin tref het om sy mylpaal-verjaardag (hy het amptelik op 23 Julie 80 jaar oud geword) te vier, is daar besluit om ook ander rugbyvriende wat vanjaar mylpaal verjaardae vier, by die fees te betrek.

’n Groot groep rugbyvriende, waarvan sommige sedert die vroeë 1960’s reeds by klub- en provinsiale rugby in Pretoria betrokke was, het dus die Saterdag voor Conradie (regte naam Johan) se verjaardag ’n ontbyt-fuksie by die Gusto Lounge in Rietfontein bygewoon.

Onder hierdie vriende was die bekende kol Peet Kleynhans, wat ’n staatmaker speler van Bobbies was, maar later groter naam gemaak het as afrigter by die klub en ook as provinsiale afrigter van die Cheetahs in Bloemfontein. Hy word ook vanjaar 80.

Dan was daar ook Chris Oosthuizen (voormalige agtsteman van Bobbies en Noord-Transvaal) wat vanjaar 70 word. Moffie de Klerk, wat in die 1960’s vir Noord-Transvaal en die Bobbies op haker uitgedraf het en ook onlangs sy 80ste verjaardag gevier het, kon die funksie ween swak gesondheid nie bywoon nie. Hy is inderdaad die daaropvolgende week oorlede.

Rugbyvriende van dieselfde era wat vir ander klubs en provinsies gespeel het, maar ook vanjaar mylpaal verjaarsdae vier, soos Olaf de Meyer (Noord-Transvaal en Tuks, 75ste verjaardag) en Micheal Hills (SWD, 70ste verjaardag) was ook teenwoordig.

Nog tydgenote en bekende rugbymanne uit dieselfde era wat die funksie bygewoon het, is Vic Booyens (Noord-Transvaal en Pretoria Polisie); Kobie Kidson (Noord-Transvaal en Pretoria Polisie); Willem Stapelberg (Noord-Transvaal en Pretoria Polisie – hy was ook die enigste Springbok teenwoordig), asook Gerrie Gericke (Noord-Transvaal en Adelaars).

Volgens Conradie is hy nog baie aktief, ten spyte van die 80 somers agter hom en hy beskou dit as ’n voorreg om nog saam met so baie van sy ou rugbyvriende te kan kuier.  Hoewel hy in die 1960’s net vyf keer vir Noord-Transvaal as agtsteman uitgedraf het, was Conradie tussen 1962 en 2007 vir 45 jaar as speler, afrigter en administrateur by die Bobbies betrokke.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button