Fortis Pretoria-Noord atletiek klub oorheers AGN landloop
Die Fortis Atletiekklub van Pretoria-Noord se landloop atlete het vanjaar weer besonder goed presteer, beide in die kleure van hul klub en die kleure van Gauteng-Noord.
Die Fortis Pretoria-Noord (FPN) atletiek klub het oor verskeie jare reeds bekendheid verwerf vir die wyse waarop hul atlete op verskeie vlakke presteer.
Die klub se landloop atlete het weer vanjaar die klub kompetisie van Atletiek Gauteng Noord (AGN) oorheers en gewen. Fortis het plaaslike klubs soos Tuks (tweede plek met 56 atlete) en Boxer (derde met 43 atlete) uitgestof.
Daarna is 60 atlete van Fortis opgeneem in die span van Gauteng-Noord wat gaan deelneem het aan ’n interprovinsiale byeenkoms in Groblersdal.
Uitblinkers van die klub tydens die Gauteng-Noord kampioenskap was 50-jarige Philimon Manyaka en die 26-jarige Obakeng Lengweng wat albei ook driemaal onder die medaljewenners was tydens die AGN ligabyeenkomste.
Lengweng was regdeur die seisoen die top atleet in die 4km wedloop vir senior vroue. Sy het tydens die interprovinsiale byeenkoms weer haar staal gewys oor hierdie afstand en die silwer medalje gewen vir haar provinsie.
Manyaka is ook die klub se ontwikkelingsbestuurder, terwyl hy ook as keurder, spanbestuurder en tegniese beampte deur AGN gebruik word. Hy het in Groblersdal nie teleurgestel nie en teruggekom met die goue medalje vir mans oor 50.
Dié merkwaardige atleet het boonop vanjaar die afdeling vir mans oor 50 gewen tydens die Suid-Afrikaanse marathon kampioenskap. Sy tyd was ’n haastige 2:43,59.
Fortis se verteenwoordiging in die provinsiale span strek oor alle ouderdomsgroepe, wat ook die klub se veelsydigheid bevestig.
Lengweng en Manyaka se medaljes in Groblersdal beteken dat FPN se atlete vanjaar reeds tien medaljes op nasionale en interprovinsiale vlak ingepalm het. Onder die ander byeenkomste waar medaljes gewen is, tel die 5000m SA kampioenskappe, die SA marathon kampioenskap en die SA Meestersatletiek kampioenskappe.
Afrigting by FPN atletiekklub word aangebied in items vanaf die 400m tot die 42.2km marathon. Vir meer inligting kontak Leandri by 082-412-1477 of Christofer by 083-634-0999.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
