Johnny Reitz stoeitoernooi bons terug met reuse opkoms
Die Johnny Reitz Big 5 stoeitoernooi, wat waarskynlik Suid-Afrika se grootste en mees prestigeryke klubtoernooi is, het die afgelope naweek bewys dat dié sport gereed is om met nuwe momentum die post Covid era tegemoed te gaan.
Die Noord-Gauteng Stoei se grootste klubtoernooi van die jaar, die gewilde Johnny Reitz Big Five toernooi, is terug met ’n knal.
Ná drie droeë jare, waartydens Covid regulasies ’n sport soos stoei ernstig geknou het, kon stoeiklubs vanoor die hele land weer Saterdag na Pretoria opruk, vir hierdie gewilde toernooi, wat jaarliks in die Rembrandt Sportsaal op die Sportkampus van die Universiteit van Pretoria aangebied word.
Hoewel die toernooi in die verlede al deur internasionale spanne besoek is, was dit gewoonlik een of twee lande wat op hierdie manier verteenwoordig is. Vanjaar kon Noord-Gauteng Stoei egter met trots gasheer speel vir vier spanne uit die buiteland. Daar was deelnemende spanne uit Namibië, Australië, Egipte en ’n groot groep stoeiers uit die staat Oregon in die noordweste van Amerika.
Die Amerikaanse span het uit mans sowel as dames bestaan, wat veral vir die Suid-Afrikaanse vroue-stoeiers by die toernooi ’n besondere geleentheid op internasionale kompetisie gegee het.
Uit plaaslike geledere het die opkoms ook die organiseerders se verwagtinge oortref, toe byna 900 stoeiers, uit 35 klubs vanoor die hele land ingeskryf het.
Soos die toernooi se naam aandui, word die medaljes vir stoeiers jaarliks versier met een van die diere uit die Groot 5, wat aan stoeiers die uitdaging bied om ’n vol stel van hierdie medaljes bymekaar te kan maak. Vanjaar was die Buffel weer aan die beurt, en die presteerders op die toernooi het medaljes met ’n afdruk van dié imposante dier ontvang.
Die wyse waarop die stoeigemeenskap uitgesien het daarna om weer op ’n hoë vlak te kompeteer, was ook duidelik uit die opkoms van toeskouers en ondersteuners. Die Rembrandt saal was ’n miernes van bedrywighede met ’n groot getal toeskouers wat die paviljoene rondom die saal volgepak het.
Tradisioneel is beide die Grieks-Romeinse, sowel as Vrystyl variëteite van die sport by die toernooi beoefen. Stoeiers vanaf die ouderdom o.6 tot by die meesters, waarvan sommige ouer as 60 is, was by die toernooi in aksie.
Selfs die invloed van beurtkrag kon nie die deelnemers en toeskouers by die toernooi se geesdrif breek nie en die program is met vernuf daar rondom bestuur. Na dese kan die stoeigemeenskap van Pretoria met trots spog dat hulle uiteindelik die spook van Covid afgeskud het en beurtkrag gefnuik het en dat die toekoms van dié sport weer rooskleurig lyk.
(Besoek YouTube kanaal hieronder vir nog aksie van die 2023 Johnny Reitz Big 5 toernooi)
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







