Jong fietsry kampioen laat die speke sing
’n Jong fietsryer van Centurion is besig om groot opgang te maak in dié sport en hy het onlangs ’n nuwe hoogtepunt in sy loopbaan bereik toe hy as nasionale o.17 padfiets kampioen gekroon is.
Gauteng-Noord Fietsry het ’n nuwe nasionale fietsry kampioen. Meer spesifiek, Xander Erasmus, die fietsry-trots van Centurion en Hoërskool Zwartkop is onlangs tydens die Nasionale Jeug Padfietskampioenskap gekroon as die Suid-Afrikaanse o.17 kampioen.
In moeilike, winderige omstandighede in Oos-Londen het dié 16-jarige graad-10 seun van Centurion ’n puik taktiese wedren gery om met die room van Suid-Afrika se jong padfietsryers oor ’n afstand van 77km af te reken en die nuwe kampioen te word, nadat hy twee dae tevore tydens die tydtoets-wedren tweede geëindig het.
Kenners is dit eens dat Erasmus ’n groot toekoms het as fietsryer. Hoewel hierdie sy eerste nasionale titel as padfietsryer is, maak dié Zwarrie al lankal golwe in die fietsrygemeenskap – in meer as een kategorie.
Erasmus se pa, Bennie, is self ’n kranige fietsryer en vir Xander het alles reeds as jong seun begin toe hy eintlik vir die pret saam met sy pa gery het. Sowat vyf jaar gelede, op 11-jarige ouderdom, het die gogga behoorlik gebyt en die jong Xander het besef dat fietsry ook sy sport gaan word.
As laerskoolseun het hy reeds verskeie sportsoorte beoefen – rugby, hokkie en selfs jukskei. Maar nadat hy hoërskool toe is het Erasmus al hoe ernstiger geraak oor sy fietsry loopbaan en mettertyd net daarop begin konsentreer. Deesdae oefen hy tot ses keer per week.
Mettertyd het die prestasies begin meer word en hy het ook die bergfiets-kode aangedurf, waar hy in skoolverband puik prestasies behaal het.
Dié opkomende jong ster moes natuurlik ook sedert 2020 vir ten minste twee jaar die frustrasie van Covid-regulasies beleef, wat sy fietsry loopbaan onderbreek het. Sedert die geleenthede egter verlede jaar weer meer geword het, was daar geen keer aan Erasmus nie en hy het begin wys waarom daar groot dinge van hom verwag word.
Op die padfiets het hy homself sedert verlede jaar onder Gauteng se top vyf as junior ryer gevestig en verskeie podium plekke behaal in bekende wedrenne soos die Macsteel Classig Road race, Die Groot Trap; Die Monte Casino Classic en die Emperors Palace Classic – almal tussen 90km en 120km.
Verlede jaar se derde plek by die Gauteng Kampioenskap het hy vanjaar na ’n tweede plek verbeter, terwyl hy vanjaar ook tweede was in die tydtoets op provinsiale vlak.
Op nasionale vlak het hy verlede jaar derde geëindig in die Criterium wedren, maar vanjaar was dit sy jaar en nou is hy die amptelike o.17 padfiets kampioen.
Een van Erasmus se kenmerke as talentvolle fietsryer is sy veelsydigheid. Daarvan getuig die feit dat hy ook as baanfietsryer skitterende prestasies behaal, soos die nasionale rekord wat hy en sy span vanjaar in die vierman-spanwedren (Team Persuit) verbeter het. Hulle het ook die aflos wedren gewen, terwyl Erasmus algeheel derde geëindig het in die individuele baan wedren.
Dan is daar die bergfiets kategorie, waar Erasmus homself ook behoorlik laat geld. Verlede jaar was hy die top o.15 ryer in die Gauteng-Noord liga, terwyl hy die Garmin Classic 25km wedren in Modderfontein gewen het.
Die ietwat minder bekende fietsry kategorie van “Gravel Cycling”, waar daar hoofsaaklik op grondpaaie gery word, pas Erasmus ook soos ’n handskoen. Behalwe dat hy vanjaar as Gauteng-Noord kampioen in hierdie kategorie gekroon is, het hy ook die Race to the Sun (’n wedren oor 50 myl tussen Hartbeespoort en Sun City) en die Sondela Gravel Shaker by ’n vakansieoord in Limpopo gewen.
Die toekoms lyk dus blink vir die jong Xander Erasmus. Hoewel hy oor die langer termyn ’n loopbaan in die wetenskap beplan en na skool ’n graad in die natuurwetenskape wil behaal, sal fietsry so lank moontlik deel van sy lewe bly. As hy studies en fietsry kan kombineer – in Suid-Afrika of oorsee – sal dit vir hom die kroon span.
Intussen droom hy as sportman op die korter termyn eers van ’n loopbaan as professionele padfiets ryer. Hou dus maar die TV skerms dop oor ’n paar jaar van nou af en moenie verbaas wees as Xander Erasmus se naam dalk binnekort verskyn as die manne vir die Tour de France aantree nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.





