Local sportSport

Carltonbeker halfeindstryde – dis Northam teen Centurion, Naka teen Tuks

Die vier kandidate wat vanjaar in die halfeindrondte van die Blou Bulle se Carltonbeker liga speel, is die afgelope naweek uiteindelik bepaal.

“Baie dankie, Tuks.”

Dít is al wat waarskynlik op die nota sal staan wat die Centurion rugbyklub hierdie week daar na Conrad Boshoff se kantoor by TuksRugby behoort te stuur saam met ’n pakkie wat dalk ’n paar kaste van Buffelsfontein se produkte kan insluit.

Die jong, grootliks onervare span van Tuks het die verdedigende Carltonbeker kampioen immers die afgelope naweek ’n reuse guns gedoen. Met hul oorwinning oor die Wolverines van Skeerpoort, vanjaar se nuweling in die Carltonbeker reeks, het Tuks aan Centurion die geleentheid geskep om letterlik in die laaste paar meter van die pylvak by Schalk van Heerden se manne verby te skuif en vierde op die punteleer te eindig.

– Tuks het die Wolverines se droom Saterdag in die Tuks Rugbystadion beëindig met hul oorwinning van 43-19. Die studente het ses keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl die Wolverines drie keer gedruk het.

Die  besoekers kan egter met reg ongelukkig voel oor ’n omstrede beslissing kort voor die einde van die wedstryd, waarmee hulle waarskynlik van hul bonuspunt drie beroof is.

Eerstens iets oor die Wolverines en hul merkwaardige vertoning in hul eerste jaar tussen die groot honde van die Carltonbeker liga.

Dié klub se verhaal klink byna na ’n sprokie. Nadat manne soos Fanie Slabbert, Braam Booysen en die voormalige Bulls en Lions slot, Schalk van Heerden (seun van Springbok legende, Mouner en broer van Springbok Wickus) die klub in 2021 te midde van al die Covid-bedreigings gestig het, het hulle binne twee seisoene die Bulle se Presidentsliga gewen en vir vanjaar se Carltonbeker liga gekwalifiseer.

Só goed het hulle in hul eerste jaar as Carltonliga span gevaar, dat hulle met net vier ligapunte uitgemis het op ’n plek in die halfeindrondte.

Die Wolverines se klub is gesetel op die pragtige Millstream landgoed in Skeerpoort net buite Harbeespoort en hoewel dit ’n oopklub is, is die meerderheid van hul spelers verbonde aan die Northam Platinum Groep se Eland myn naby Brits.

Die toekoms van klubrugby is beslis gesetel in die uitbou van gemeenskapsklubs en daarom behoort die Wolverines, solank hul huidige borge agter hul staan, nog lank deel van die Carltonbeker verhaal te bly.

– Terwyl Tuks die Wolverines se veldtog beëindg het, moes Centurion steeds ’n oorwinning in hul laaste wedstryd teen die Grizzlies van Tuine behaal om bo die Wolverines in die vierde plek op die punteleer te eindig.

Dít het Riaan Brand se manne behoorlik gedoen, deur agt drieë in te ryg om die moedige Grizzlies met 53-34 te klop.

Centurion het vanjaar stadig begin en gesukkel om aan die gang te kom, maar soos hulle tans speel, sal dit dapper wees om baie geld teen hulle te verwed in die uitspeelfase.

Die Grizzlies is geen maklike span nie. Hulle speel opwindende rugby en hou nooit op speel nie, wat ’n baie goeie toets was vir die verdedigende kampioen.

Behalwe vir Naka Bulle is Centurion waarskynlik die enigste ander span wat op hierdie stadium die vermoë het om die Rhinos op hul tuisveld in Northam te klop. Die manne uit Pretoria se suide het wel een of twee terugslae gehad, soos die verlies van hul staatmaker losskakel, Ian Trollip. Maar hul vaste vyf, met manne soos die hardwerkende jong slot Ruan Coetzee, en die woelige haker, Carl “Botter” Wijburg, aan die voorpunt, speel tans skitterende rugby.

Daarby het Centurion, wat die kombinasie betref, waarskynlik die beste lostrio in die kompetsie. Hul agtsteman, Driaan Bester, sal waarskynlik binnekort deur ’n Curriebeker span soos die Pumas of Griekwas opgeraap word.

– Soos verwag, het Naka Bulle redelik maklik (79-14) met Pretoria afgereken. Die manne van die Moot het derdien keer agter die doellyn gaan kuier en Marinus van der Watt het waarskynlik hierdie wedstryd as proewe benader om sy span vir die uitspeelwedstryde te slyp.

Naka Bulle speel teen Tuks in die ander halfeindstryd van die toernooi.

– Ongelukkig vir die Northam Rhinos het hulle nie die geleentheid gekry om hulself te slyp vir die halfeinstryd nie, aangesien Harlequins met al hul spanne onttrek het aan die wedstryde teen die Bosvelders op laasgenoemde se tuisveld.

Hoe minder daar oor die politiek agter hierdie ongelukkige gebeure gesê word, hoe beter. Harlequins sal sekerlik hul kritiek kry, maar die wyse waarop die Rhinos ’n onnodige politieke insident geskep het en klubrugby in ’n tyd van groei en voorspoed daardeur geknou het, is tragies en betreurenswaardig. Die Blou Bulle, sy hardwerkende president, die beleerde skeidsregters (met al hul gebreke) en die klubrugby gemeenskap het dit nie nodig nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button