Grizzlies laat Tuks groot skrik in laaste Carltonbeker wedstryd
Die Grizzlies van Tuine het Saterdag so byna wéér vir ’n opskudding in die Carltonbeker toernooi gesorg toe Tuks eers in die laaste sekondes van hul tweestryd die knoop teen die manne van die Weste kon deurhak.
Tuks se ego as die span wat derde op die Carltonbeker puntelys geëindig het, het Saterdag so byna ’n ernstige knou gekry, toe hulle eers in die laaste sekondes van hul wedstryd teen die Grizzlies van Tuine die wenpunte kon aanteken.
Die Grizzlies het hulself deur die loop van die seisoen bewys as dié span wat groter name kan skok, soos hul twee oorwinnings teen Harlequins getuig. Daarby is hulle ook reeds bekend as ’n span wat nooit gaan lê of oorgee nie – hulle speel voluit tot die eindfluitjie blaas.
Hierdie twee feite het Saterdag in die Tuks Rugbystadion amper weer vir ’n verrassing gesorg.
Die studente het wel sommer vroeg eerste punte aangeteken, toe skrumskakel Divan Roelofse kleinkantjie om is ná ’n vyftree skrum.
Soos die Grizzlies se gewoonte egter is, het hulle nooit paniekerig geword nie en gou teruggeslaan deur self te gaan druk en sodoende die tuisspan op hul tone te hou.
Selfs na die studnete se tweede drie het die Grizzlies dieselfde gedoen en eenvoudig ook weer die doellyn oorgesteek.
Tuks het egter teen rustyd ’n voorsprong van 24-10 opgebou ná nog twee drieë. Toe hulle kort na rustyd wéér druk om 31-10 voor te loop, het die tuisspan waarskynlik die fout gemaak wat baie ander spanne vanjaar al gemaak het – hulle het gedink die tweestryd is verby.
Wreed was die ontnugtering toe die Grizzlies daarna drieë onbeantwoorde drieë gaan druk het. Toe losskakel Lusanda Xakwana boonop met minder as drie minute se speeltyd oor ’n 55m strafdoel oorklits, was die Tuks ondersteuners doodstil en hul span het effens oorbluf gelyk met die telling op 32-31 in die besoekers se guns.
Tuks het na die afskop die bal in die hande gekry en verwoed aangeval, maar kon eenvoudig nie deurbreek nie. Uiteindelik het dit ’n skepdoel deur plaasgvervanger Jean Louis van Rensburg gekos om die Tuks van verleentheid te red en die eindtelling op 34-32 in die studente se guns te staan te bring.
Met hierdie vertoning het die Grizzlies verseker dat hulle sesde op die punteleer – bo Harlequins en Pretoria – eindig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



