Naka Bulle herwin Carltonbeker
Naka Bulle rugbyklub se eerstespan het Saterdag in die Bosveld ’n reuse aanslag van die Northam Rhinos oorleef om vir die tweede keer in drie seisoene as Carltonbeker kampioen gekroon te word.
Die Carltonbeker – waarskynlik die mees gesogte klubrugby trofee in Suid-Afrika – staan weer in die Moot van Pretoria, nadat die Naka Bulle rugbyklub se eerstespan Saterdag met 28-24 in ’n klipharde en spannende eindstryd teen die Northam Rhinos geseëvier het.
Nadat Naka Bulle verlede jaar teen alle verwagtinge in deur Centurion rugbyklub onttroon is as Carltonbeker kampioen, het Marinus van der Watt se manne teruggebons, hoewel hulle byna 300km noord moes reis om die trofee hierdie keer in die skadu van die Waterberge in die Bosveld te gaan haal.
Die Northam Rhinos, wat in hul tweede Carltonbeker eindstryd gespeel het, het bo-aan die punteleer geëindig en hulle het die voorreg gehad om die eindstryd aan te bied. Wat ’n rugbyfees was dit nie, met meer as 3000 toeskouers wat uit Pretoria op die myndorpie Setaria naby Northam toegesak het om saam met die plaaslike gemeenskap die Carltonbeker eindstryde te geniet.
Dr. Phil Pretorius se manne het die wedstryd soos ’n trop goed opgewarmde renperde begin en onmiddelik die tempo opgejaag. Binne drie minute was hul groot slot, Anthony Buys, onder die pale oor vir die eerste drie van die wedstryd.
Toe die tuisspan se agtsteman en kaptein, Chaney Willemse, nóg twee minute later hul tweede drie druk ná ’n breekslag deur losskakel Johnny Welthagen, het dinge baie sleg gelyk vir die manne van die Moot. Hulle het boonop hul staatmaker binnesenter, Johan Grobler, reeds op daardie stadium weens ’n oënskynlik ernstige besering verloor.
Dis egter toé dat die waarde van goeie leierskap op die veld en ervaring van uitspeelwedstryde weer beklemtoon is. Ruan Grundelingh het sy manne bymekaargemaak en sonder om enige teken van paniek te toon, het die Naka Bulle manne van rat verwissel om terug te kom in die wedstryd.
Ná ’n stafskop het die besoekers ’n lynstaan dryfbeweging afgedwing en die briljante skrumskakel, Jack Hart, is soos ’n vetgesmeerde blits langs sy voorspelers verby om sy span se rekening te open.
Nadat Percy Williams die Rhinos se voorsprong met twee strafdoele gerek het, het Naka Bulle se stadige gif begin werk. Hulle het voorlangs begin oorheers in die vaste fasette, sowel as by die afbreekpunte.
Drieë deur linkervleuel Frans Botha (kleinkant-beweging vanaf ’n vaste skrum) en buitesenter Martin Austin (nadat die hardwerkende flank, Eckard Boshoff, besit in die rooi gebied omgekeer het), het die besoekers gehelp om teen rustyd met 20-18 voor te loop.
In die tweede helfte het die spanning soms breekpunt bereik en dit was gou duidelik dat die span wat hul fokus die beste kon behou, ’n groot voordeel sou hê.
Northam het skielik ook gevaarliker gelyk nadat plaasvervanhger skrumskakel, Patrick Hattingh, opgestuur is. Hy het egter nie veel ondersteuning gehad in sy poging om die besoekers onder druk te sit met aanvallende spel nie.
Toe Naka Bulle se agtsteman, JJ Scheepers, sy span se vierde drie na ’n halfuur se spel in die tweede helfte druk, het die momentum finaal geswaai. Die tuisspan se dissipline het erg losgetorring en enige kans wat hulle nog kon hê om wenpunte te probeer kry in die laaste minute, is deur blote swak dissipline verongeluk.
– Tuks se Fezelas het Naka Bulle se tweedespan met 42-18 geklop om hul liga te wen, terwyl Harlequins se derdes (Quins Jesters) met 31-20 baas was teen Northam se derdes in hul eindstryd.
– Intussen het dit ook bekend geword dat vyf van die agt spanne in die Blou Bulle se Carltonliga gaan deelneem aan die Gold Cup nasionale klubrugby toernooi, wat eerskomende naweek afskop. Naka Bulle en Harlequins, wat in 2022 die twee spanne bo-aan die Carltonbeker punteleer was, asook Centurion (wildcard) wat die uiteindelike kampioen was, is die Bulle se verteenwoordigers. Die Northam Rhinos verteenwoordig die Limpopo Blou Bulle, terwyl die Wolverines as ’n verteenwoordiger van die Luiperds Rugby-unie gaan deelneem.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



